On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kuruman-boer se moordsaak uitgestel tot November

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:51 Tue, 28 Oct 2025

Kuruman-boer se moordsaak uitgestel tot November | News Article
Hendrik Venter. Foto: Facebook

Die saak teen vier mans, wat verbind word met die moord op ’n boer van Kuruman, is tot November uitgestel om hulle in staat te stel om regsverteenwoordiging van Regshulp SA te bekom.

Orabile Vincent Motsewakgosi (24), Kabelo Klaas Tata (28), Potso Bogodile (20) en Jan Tata (18) het Maandag (26/10) hul eerste verskyning in die rondgaande hooggeregshof op Kathu gemaak. Hulle staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade (’n bylae 6-oortreding) en roof met verswarende omstandighede. 

Hendrik Venter, ’n veeboer van Kuruman, is verlede September op sy plaas vermoor. Venter het na bewering Kameelaar – die plaas waar hy gewoon het – een oggend omstreeks 08:30 verlaat om een van sy ander plase te besoek. ’n Buurman het omstreeks 09:45 op sy liggaam afgekom waar dit langs sy voertuig by die plaashek gelê het.

Die vier beskuldigdes sal na verwagting Woensdag (29/10) hul borgtogaansoek in Kuruman se landdroshof voortsit. Die verrigtinge kon verlede Vrydag nie voortgaan nie weens ’n oorvol hofrol. Die staat het bevestig hy sal die borgtogaansoek teenstaan.

Hendrik Venter is in September 2024 dood aangetref by  die hek van sy plaas. Foto: Facebook

Die saak sal in November na die hooggeregshof in Kimberley oorgeplaas word, waar ’n datum vir die voorverhoor na verwagting vasgestel sal word.

DA-LP Willie Aucamp, die Venters se familiewoordvoerder, sê sy party sal al die hofverrigtinge bywoon om te verseker dat die regsproses behoorlik gevolg word.

Die beskuldigdes is aanvanklik vrygelaat, en die saak is op 10 April voorlopig van die rol geskrap weens ’n gebrekkige polisiedossier en swak ondersoekwerk. Ná volgehoue druk deur AfriForum en die DA is die verdagtes egter op 29 Julie weer in hegtenis geneem.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.