On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Mynbedrog: Twee Noord-Kaapse vroue weer voor hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:55 Tue, 28 Oct 2025

Mynbedrog: Twee Noord-Kaapse vroue weer voor hof | News Article
Roslyn Crossingham. Foto: SAPD

Twee Noord-Kapenaars, wat van bedrog met mynregte beskuldig word, kom na verwagting weer Donderdag (30/10) voor in die handelsmisdaadhof in Kimberley.

Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) staan tereg op aanklagte wat verband hou met die bedrieglike verkoop van mynregte. Die twee het op 10 September in Douglas se landdroshof verskyn, waar borgtog vasgestel is op R15 000 vir Crossingham en R800 vir Rapetsoa, sê ao. Nomthandazo Mnisi, provinsiale Valke-woordvoerder.

Crossingham het aanvanklik op 9 Julie in die hof verskyn voordat sy as ’n tweede beskuldigde bygevoeg is, terwyl Rapetsoa – ’n mededirekteur van Rowen Tree 60 – die eerste keer op 19 Junie voorgekom het.

Rapetsoa het na bewering ’n aansoek teruggetrek om prospekteerregte te hernu, nadat die departement van minerale hulpbronne en energie dit reeds verwerk het.

Ongeldig mynregte glo verkoop

Crossingham word daarvan beskuldig dat sy ’n afsonderlike aansoek in 2012 teruggetrek het gedurende haar tyd as mededirekteur van dieselfde maatskappy.

Desondanks het die vroue en hul mededirekteure na bewering die maatskappy, insluitend die ongeldige mynregte, in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop. Crossingham het, voordat die betaling afgehandel is, na bewering ook die maatskappy aan ’n ander koper verkoop en die kansellasiebrief weggesteek om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was, sê Mnisi.

“Die klaer, wat geglo het dat die regte wettig was, het na bewering R1,368 miljoen betaal, waarvan R100 000 na bewering in een direkteur se persoonlike rekening inbetaal is. Die klaer het uiteindelik die volle bedrag verloor.”

Beleggingskema: Man se verhoor begin binnekort in Hartswater | News Article

Ruan Maritz. Foto: Facebook/Ruan Maritz

In ’n aparte saak staan Ruan Maritz (30), ook van die Noord-Kaap, tereg op bedrogklagte nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het. Maritz het op 10 Oktober in die handelsmisdaadhof op Hartswater verskyn. Sy saak is tot 20 Januarie uitgestel vir verdere verrigtinge.

Maritz het glo beweer hy is ’n makelaar vir Quick Trade Investment and Forex Trading en het beleggers oortuig om ’n ooreenkoms aan te gaan wat bepaal albei partye sou gelykop bydra, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Hy het egter na bewering versuim om sy deel by te dra. Maritz is op 25 Maart in hegtenis geneem en die volgende dag borgtog van R50 000 toegestaan.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.