On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Twee moordverdagtes van Noordwes kry borgtog ná appèl

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:23 Wed, 29 Oct 2025

Twee moordverdagtes van Noordwes kry borgtog ná appèl | News Article
Die Koster-egpaar. Foto: Facebook

Twee mans, wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n Rustenburgse paartjie op ’n winkelsentrum se parkeerterrein vermoor het, is op borgtog vrygelaat.

Die hooggeregshof in Mmabatho het Onke Bongo (30) en Gift Tinyiko Mhlanga (29) elk borgtog van R5 000 toegestaan nadat hulle suksesvol teen ’n vorige beslissing van die Rustenburg landdroshof geappelleer het. Hulle kom na verwagting weer in Januarie voor.

Die tweetal staan tereg op twee aanklagte van moord op George (69) en Wilma (55) Koster, sowel as een aanklag van regsverydeling nadat hulle na bewering gevlug in ’n Kia gevlug en die motor by Mhlanga se huis probeer wegsteek het.

Die Kosters se voertuig op die toneel. Foto: SAPD

Bongo en Mhlanga is albei op 17 Junie in hegtenis geneem ná ’n wenk van die gemeenskap. Hul borgtogaansoek is op 15 Julie van die hand gewys, deels weens kommer dat hulle getuies sou geïntimideer het.

Tydens hul appèl het hulle aangevoer hulle is die hoofversorgers van minderjarige kinders, het geen vorige veroordelings of hangende sake nie en het ten volle met die polisie saamgewerk. Hulle het die hof ook verseker hulle sou nie met getuies of bewyse inmeng nie, sê Sivenathi Gunya, provinsiale NVG-woordvoerder.

“Die hooggeregshofregter het beslis die landdros het fouteer deur borgtog te weier en onnodige waarde te heg aan ongegronde bewerings dat Mhlanga na Mosambiek sou kon gevlug het.

“Die regter het beslis albei het geverifieerde adresse, stabiele werk en sterk familiebande in Suid-Afrika. Geen bewyse is aangebied dat enigeen ’n paspoort besit of ’n vlugrisiko inhou nie.”

Kragtens hul borgtogvoorwaardes moet die beskuldigdes weekliks by die Rustenburgse polisiekantoor aanmeld en word hulle streng verbied om getuies te kontak of met die voortgesette ondersoek in te meng.

Die Koster-egpaar is op 14 Junie noodlottig geskiet in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg.

LEES OOK: Rustenburg-egpaar: Beskuldigdes borgtog geweier

Tydens ’n vorige hofverskyning het lt.kol. Patrick Murunwa, ondersoekbeampte, getuig die beskuldigdes het in ’n wit Kia by die winkelsentrum aangekom en langs die Kosters se silwer Jeep parkeer. 

Volgens sy getuienis het Bongo na bewering die Kia se deur oopgemaak en die Jeep getref. 

George het uit sy voertuig geklim om die skade te inspekteer waarna ’n woordewisseling ontstaan het.  

Geen vuurwapen op toneel

“Bongo het Koster na bewering met ’n vuurwapen doodgeskiet, waarna Mhlanga met die Kia begin agteruitry het,” sê Gunya. “Wilma het toe die Kia se linkeragterruit gebreek, en Bongo het haar na bewering ook geskiet.” 

Die polisie het geen vuurwapen op die toneel gevind nie.

Die ondersoek duur voort en Bongo en Mhlanga sal na verwagting onskuldig pleit, sê Gunya. Hul volgende hofdatum is nog nie bevestig nie.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.