On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ouers moet wakker word, sê Noordwes se nasionale redenaarskampioen (12)

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:30 Thu, 30 Oct 2025

Ouers moet wakker word, sê Noordwes se nasionale redenaarskampioen (12) | News Article
Sloan van Wyk by die Radikale Redenaars se nasionale finaal. Foto verskaf

“Ouers moet wakker word. Ek is my eie persoon met my eie wortels en my eie bedding. Die buigtyd is verby – die snoeityd is hier.”

Na aanleiding van die gesegde “Buig die boompie terwyl dit jonk is”, het Sloan van Wyk (12) ouers uitgedaag om te heroorweeg hoe hulle hul kinders vorm en lei. Hy het hulle daaraan herinner dat selfs jong bome uiteindelik ruimte nodig het om te groei.

Toe Sloan van die Laerskool Saamtrek in Klerksdorp die verhoog tydens die Radikale Redenaars se nasionale eindstryd in Boksburg betree, het die skare nie sulke wysheid – of humor – van iemand van sy ouderdom verwag nie.

Sloan met sy toekenning. Foto verskaf

Maar sy toespraak oor “oorbetrokke ouerskap” het nie net die gehoor laat lag nie, dit het hulle ook laat nadink. Sloan, wat Noordwes verteenwoordig het, is aangewys as nasionale wenner in die gr. 6-moedertaalafdeling.

Om daar te kom het hy eers ’n video-inskrywing ingedien en toe die provinsiale ronde in Potchefstroom gewen, voordat hy teen leerders van dwarsoor Suid-Afrika in die nasionale eindronde meegeding het, vertel sy ma, Lerina van Wyk.

Die kompetisie word jaarliks aangebied om jong stemme te vier wat uitblink in Afrikaanse redenaars, prosa en poësie. “Hy het Noordwes teen die ander provinsies verteenwoordig – en toe het hy gewen,” vertel sy trots.

Humor en skerp denke

Vir Sloan is redenaars sedert gr. 4 deel van sy lewe. “My onderwyser, Kowie Greyling, het vir my gesê ek het ’n natuurlike talent daarvoor nadat sy my klastoespraak gehoor het. 

“My ma het ingestem en die eerste keer wat ek ingeskryf het, het ek agtste in Noordwes geëindig. Ek is sedertdien mal daaroor.”

Vanjaar se onderwerp het aan Sloan die perfekte geleentheid gegee om sy humor en skerp denke te vertoon. Sy toespraak het ouers uitgedaag om te heroorweeg hoeveel beheer hulle oor hul kinders se lewe het.

Sloan het die gehoor laat lag en dink. Foto verskaf

Deur humor en wysheid te meng, het Sloan die spot gedryf met moderne ouerskapgewoontes – van oorlaaide skedules tot konstante inmenging. “Ek is twaalf jaar oud,” het hy geskerts, “maar as jy na my rooster kyk, lyk dit of ek ’n 44-jarige immigrant uit Meksiko is!”

Hy het ouers ook daaraan herinner dat selfs goeie bedoelings te veel kan wees. “Oorbetrokke ouers maak my siek. Ouers kies hul kind se vriende, buitemuurse aktiwiteite en infiltreer selfs hul akademiese ruimte.”

Agter sy selfversekerde verhoogteenwoordigheid lê baie oefening en ondersteuning. “Ek het meestal tuis geoefen; soms voor my klas,” sê Sloan. 

Gegaan om te wen 

“My ma en my Afrikaansonderwyseres, Else du Plooy, het my die meeste gehelp. Ek het selfs voor die spieël geoefen.”

Hy was “baie bly”, maar nie heeltemal verbaas toe sy naam as nasionale wenner aangekondig word nie. “Ek het my beste gegee – en ek het gegaan om te wen.

“Ek is dankbaar en trots dat die Here my die gawe van praat gegee het,” het hy gesê. “Nou moet ek ook voor elke ete bid – dis my nuwe werk by die huis!”

Wat die toekoms betref, wil hy aanhou meeding in openbare redevoering en eendag ’n akteur word – of dalk ’n motiveringspreker. “Ek kan net nie besluit wat om op hoërskool te kies nie – voorbereide of onvoorbereide toesprake – want ek geniet albei,” het hy gesê. “Almal sê ek is beter met onvoorbereid, want ek kan op my voete dink.”

Sy skoolhoof, Pieter Visagie, was ook nie verbaas oor sy sukses nie. “Hy het geweet ek gaan wen,” vertel Sloan.

Sloan het sy toespraak afgesluit met ’n gesegde van sy oupa en beoordelaars sowel as ouers laat lag en instemmend knik: “Die lewe is ’n Springbokhuwelik – korter as wat jy beplan het. Moenie die kort tydjie wat ons het, nog moeiliker maak nie.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.