On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-ma ‘voel elke emosie’ ná man se dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:24 Thu, 30 Oct 2025

Noordwes-ma ‘voel elke emosie’ ná man se dood | News Article
Hendrik Roodt, sy vrou, Lize-May en hul dogtertjie, Lia-May. Foto: Facebook

Nadat sy haar man in ’n motorongeluk verloor het, het ’n jong ma van Lichtenburg in Noordwes haarself belowe om nooit weg te steek hoe sy voel nie: As sy moes huil, het sy gehuil. As sy wou lag, het sy gelag.

“Ek het myself toegelaat om te voel wat ek wou voel,” vertel Lize-May Roodt. “Ek het nie my emosies onderdruk nie.” Dit is net meer as ’n jaar sedert daardie lewensveranderende oggend toe haar man, Hendrik, oorlede is.

Die paartjie was op 19 Oktober op pad huis toe van ’n geleentheid op Ottosdal toe die ongeluk sowat 10 km buite Lichtenburg plaasgevind het. Hul voertuig het na bewering ’n slaggat op die skouer van die pad getref, waarna beheer oor die voertuig verloor is. Albei is uit die voertuig geslinger.

Lize-May het veelvuldige beserings opgedoen, waaronder frakture aan haar been, enkel en voet, en het ’n lang operasie in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp ondergaan. Hendrik het nie die ongeluk oorleef nie.

Ma en dogter by ’n gedenkkruis ter nagedagtenis van Hendrik. Foto verskaf

Sy onthou daardie dag net in fragmente: Die lag, die goeie geselskap, die vreugde om deur vriende omring te wees. “Ek kan nie veel van die ongeluk onthou nie. Ek weet ons het daardie dag ’n wonderlike tyd saam gehad; met vriende gekuier – maar ek kan niks van die eintlike ongeluk onthou nie.”

In die maande daarna moes sy een van die moeilikste werklikhede van die lewe verwerk: Om te leer om alleen te leef en ’n enkelouer te wees. Hul dogtertjie, Lia-May, was slegs drie maande oud toe die ongeluk gebeur het. Sy was nie in die bakkie nie.

“Dit was ’n baie groot aanpassing vir my om ’n enkelouer te wees,” sê sy. “Dis nie meer die gemak van twee mense wat mekaar help om ’n baba groot te maak nie.

Hendrik en Lia-May. Foto verskaf.

“Ek moes leer dat dit nou net ek en sy is. Terwyl ek gewoond was daaraan om hom elke dag te sien en dinge saam te doen, moes ek leer om dinge alleen te doen.”

Vandag is Lia-May die lig wat haar ma deur die donkerste dae lei. “Ek het nooit gedink so ’n klein lyfie sou my grootste steunpilaar wees nie.

“Sy weet hoe haar pappa lyk. Wanneer sy sy foto sien, sê sy: ‘Pappa.’ Ek wys haar foto’s en video’s van hom, en sy lag hardop. Veral video’s waar hy praat – dan kan sy sy stem hoor. Soos sy ouer word, sal sy meer oor hom begin vra.”

Die gat op die skouer wat moontlik deur die bakkie se wiel getref is. Foto verskaf

Om ’n enkelouer te wees, sê sy, het haar nuwe perspektief gegee. “Ek het nuwe respek gekry vir enkelma’s en -pa’s wat hierdeur moet gaan. Dis harde werk, maar aan die einde van die dag maak daardie glimlag alles beter.”

Lize-May sê daarby het geloof en die mense rondom haar, haar elke dag deur die moeilike tye gedra.

“Gebed, die Here, familie, skoonouers en vriende – dis al wat my daardeur gehelp het. Sonder hulle sou dit nog moeiliker gewees het. Elkeen help my so baie deur hierdie hele proses. Ek kon nie beter mense in my lewe vra nie.”

Die bakkie ná die ongeluk. Foto verskaf

Hoewel Hendrik nie meer daar is nie, leef hy steeds voort in hul hart, en sy praat steeds gereeld oor haar man met familie, vriende. “Ons praat oor wat ons saam gedoen het; wat ons sou gedoen het,” sê sy.

“Wanneer Lia-May sekere dinge doen of na my op ’n sekere manier kyk, sien ek haar pa se maniere in haar. Dan sê ek vir haar: ‘Jy tree net soos jou pa op, jy weet,’ en ons lag almal. Dis asof sy weet sy is haar pa se kind.”

Sy het geleer hartseer het geen tyd of datum nie. Haar raad aan ander is om elke dag te vat soos dit kom. “Voel elke emosie wat jy wil voel. Moenie probeer om dit weg te steek nie.


Lize-May en klein Lia-May. Foto: Facebook

“Gun jouself tyd om te genees. Selfs al moet jy jou dag minuut vir minuut aanpak – dis oukei. Praat oor jou geliefde. Dit help.

“Almal treur anders. Praat wanneer jy wil praat, huil wanneer jy wil huil, lag wanneer jy wil lag. Maak net seker dat jy weer opstaan en die lewe aanpak. Moenie die genesing probeer verhaas nie – dit neem so lank as wat dit neem.”

Wanneer spesiale dae aanbreek, soos verjaardae, herdenkings of die dag van die ongeluk, kies sy om dit te vier pleks van om te treur. “Ons kom almal bymekaar – familie en vriende – en gesels oor die goeie tye. Ek probeer steeds om dit ’n gelukkige dag te maak, ten spyte van alles.”

Geen polisievoertuig beskikbaar nadat jong pa in Noordwes sterf | News Article

Hendrik en Lize-May. Foto: Facebook

Die ervaring het haar beskouing van die lewe en liefde verander. “Die lewe is regtig kort,” sê sy. “Jy dink jy gaan die res van jou lewe saam met iemand deurbring, maar ek is net dankbaar vir die jare wat ek saam met hom gehad het. Ek sou dit vir niks verruil nie.

“Hendrik was my beste vriend. Hy het deur dik en dun by my gestaan en my soos die mooiste vrou laat voel. Sy hart was suiwer – hy het almal gehelp, maak nie saak wat nie.”

Volgens Lize-May was hy ’n wonderlike pappa wat voor haar geboorte nie kon wag om hul dogtertjie te ontmoet en vas te hou nie. “Ek kan nie die res van my lewe saam met hom deurbring nie,” sê sy. “Maar ek het die beste tyd van my lewe saam met hom gehad. En ek sal dit vir ewig koester.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.