Central SA
Raadslede kap Mangaung-metro oor voortdurende ‘doodsgroef-tragedies’─── ZENANDE MPAME 11:37 Fri, 31 Oct 2025
 
                    
                    
                    
                    
                    
            Mangaung-raadslede is woedend oor die aanhoudende verdrinkings in die berugte Witherow-steengroef in Heidedal, Bloemfontein.
Hulle verkwalik die munisipaliteit omdat hy nie inwoners teen hierdie herhalende tragedies beskerm nie. Op ’n driftige raadsvergadering het raadslede gesê die sterftes is weens munisipale nalatigheid. Die metro bly in gebreke om veilige ontspanningsplekke, soos ’n openbare swembad, te voorsien.
Hulle vra dringende optrede om die steengroef te beveilig, die plaaslike swembad te heropen en toe te sien die lewens van Heidedal-inwoners word waardeer en beskerm.
Die begrafnisdiens van Benjamin van Wyk (20), wat in die steengroef agter Twin City Mall in Heidedal verdrink het, is Vrydag (31/10) in die Ou Apostoliese Kerk in Heidedal gehou.
Van Wyk het blykbaar saam met twee vriende geswem toe hy in die moeilikheid beland het. Sy vriende het probeer om hom te help, maar hy het onder die water verdwyn voordat hulle by hom kon uitkom.
Op die raadsvergadering Donderdag (30/10) het raadslede gesê die munisipaliteit laat die inwoners van Heidedal in die steek. “Dis nie iets wat vandag of gister begin het nie – hierdie tragedies gebeur lankal,” het PA-raadslid Sophia Swartz gesê.
“My vraag aan die munisipaliteit vanmiddag is: Maak die lewens van die mense van Heidedal nie saak nie? Kan daar nie hulp gestuur word of enige optrede wees om hierdie aanhoudende probleem by die sogenaamde ‘doodsgroef’ in Heidedal op te los nie?

Van Wyk se familie op die dag van sy gedenkdiens by die steengroef. Foto: Facebook/George Thyzel Swarts
“Ek doen ’n ernstige beroep op u, speaker, om die openbare swembad weer oop te maak. Dit sal vir ons kinders ’n veilige plek gee om te swem en speel, pleks daarvan om na die gevaarlike steengroef te gaan wat al soveel lewens geëis het.”
Luidens berigte sou Van Wyk op Kersdag 21 jaar oud geword het. Sy ma het hom beskryf as “ ’n sagte, goedgemanierde kind” wat almal gegroet en met respek behandel het.
Inwoners van Heidedal pleit al sedert 2016 die groef moet gesluit of die veiligheid opgeskerp word weens al die verdrinkings.
Nog ’n raadslid het die munisipaliteit op die vergadering gevra om te sorg die swembad heropen en toegang is bekostigbaar. “Laat hulle asseblief die deure van daardie swembad oopmaak vir ons gemeenskap,” het DA-raadslid Attie Terblanche gesê.
“Kom ons kyk na die toestand van die swembad en herstel dit. Ons wil nie nog ’n geliefde verloor nie. Môre kan dit een van ons eie familielede of vriende wees.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
 
                
 
                             
                             
                             
                             
                             
                     
                     
             
             
            
 
                    