On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Woede laai op oor Mangaung se Tempe-plan

───   ZENANDE MPAME 13:09 Mon, 03 Nov 2025

Woede laai op oor Mangaung se Tempe-plan | News Article
Besoekers by die Tempe-lughawe. Foto verskaf

Bloemfonteiners en belanghebbendes in die lugvaartbedryf maak sterk beswaar teen die moontlike verkoop van die Tempe-lughawe.

Dit word beskryf as ’n “roekelose” voorstel, wat gevaar inhou vir plaaslike werksgeleenthede. Dit kan ook die stad se lugvaartinfrastruktuur ondermyn.

Die DA, saam met die Tempe-vliegveld en Groenvlei-gemeenskap, neem sterk standpunt in teen die Mangaung-munisipaliteit se omstrede plan om die Tempe-lughawe vir privaat landgoedontwikkeling te verkoop. 

Die voorstel lei tot wydverspreide woede en kommer oor regsaspekte daarvan. Meer as 50 geskrewe besware is reeds ingedien. Kritici beskuldig die munisipaliteit daarvan dat hy behoorlike prosesse omseil, openbare deelname ignoreer en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur oortree.


Die Tempe-vliegveld is ’n werkende lugveld wat deur die SA Burgerlugvaartowerheid gesertifiseer is. Enige poging om dit te herontwikkel, sal sy lugvaartstatus ondermyn, plaaslike werksgeleenthede bedreig en ’n noodsaaklike deel van Bloemfontein se vervoer- en ekonomiese infrastruktuur in die slag laat bly, meen die DA.

“Ons veroordeel ten sterkste die munisipaliteit se versuim om met die betrokke huurders, lugvaartbelanghebbendes en die plaaslike gemeenskap oorleg te pleeg voordat hierdie plan nagestreef word,” sê rdl. Johan Pretorius. “(Ons) eis die onmiddellike opskorting van alle optrede wat verband hou met die voorgestelde verkoop en vra ’n deursigtige, wettige proses, wat hierdie belangrike openbare bate beskerm.”

Die voorgestelde vervreemding van ’n “strategiese munisipale bate” is prosedureel gebrekkig en moontlik onwettig kragtens artikel 14 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, voeg hy by.

‘Lughawensmaatskappy bevestig hulle het geen aansoek ontvang vir die Welkom-vraglughaweprojek’

“Die party sal nie toekyk nie terwyl die ANC-beheerde munisipaliteit probeer om ’n werkende en strategiese lughawe te verkoop sonder om wetlike prosedures te volg en oorleg te pleeg met die mense wat direk geraak word.”

Intussen berig City Press die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en die lugvaartowerheid bevestig hulle het geen aansoek ontvang vir die Welkom-vraglughaweprojek van R200 miljard nie, ten spyte van bewerings oor bouwerk.

Sébastien Investissements et Logistique het ’n paar dae ná sy registrasie in 2023 die tender bekom. Die maatskappy is aangestel om die lughawe te omskep in ’n internasionale vraglughawe met ’n passasiersterminaal en lugvaartakademie. Die geskatte koste het intussen van R5 miljard tot R200 miljard gestyg het.



Verlede maand het OFM Nuus berig kommer is uitgespreek oor die toestand van die Welkom-lughawe ná ’n inspeksiebesoek deur ’n lid van die nasionale raad van provinsies saam met ’n amptenaar van die Burgerlugvaartvereniging.

Die besoek het wydverspreide verval aan die lig gebring. Belangrike infrastruktuur soos aanloopbaanligte en windsakke is buite werking, wat ernstige gevaar vir vlieëniers en lugvaartbedrywighede inhou.

Die Mangaung-metro het onderneem om kommentaar te lewer.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.