Central SA
Vrystaat se somerveldtog begin eersdaags─── 15:00 Mon, 03 Nov 2025
Die Vrystaat skud vere reg vir sy jaarlikse veldtog om somertoerisme te bevorder.
Die Vrystaat se nuwe somerveldtog, wat plaaslike toerisme wil aanwakker, word Donderdag (6 Oktober) by die Gariepdam bekend gestel. Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Ketso Makume, lei die verrigtinge.
Die veldtog is daarop gemik om sowel Suid-Afrikaners as buitelandse besoekers aan te moedig om die Vrystaat se dikwels oor die hoof gesiene bestemmings te ontdek.

Volgens die departement is hierdie somerveldtogbekendstelling daarop gemik om die plaaslike toerismebedryf sê hupstoot te gee. Foto: Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme
Een van hierdie bestemmings is die Gariepdam self, wat 370 m² beslaan wanneer dit vol is en onder die 15 grootste damme ter wêreld tel. Die dam is gewild vir wateraktiwiteite soos seil, swem en kanovaart, terwyl besoekers ook op droë grond kan geniet van wildritte, 4x4-roetes en bergfietsry.
“Ons moedig Vrystaters aan om hul eie omgewing te verken en die provinsie se verborge skatte te ontdek,” sê die departement. Die bekendstelling vind plaas tydens ’n spesiale bootgeleentheid op die dam.
Volgens die departement is die somerveldtog daarop gemik om onvergeetlike reiservarings vir almal bekostigbaar te maak. Die Gariepdam word beskou as die ideale plek om die feestyd af te skop – met ’n ontspanne, romantiese atmosfeer wat selfs geskik is vir spesiale oomblikke soos ’n verlowing op die water.
Tyd vir blywende herinneringe
“Ons oorde en reservate dwarsoor die provinsie bied unieke ervarings teen ’n bekostigbare prys: chalets, braai- en piekniekplekke, kampeerplekke, wildritte, visvang, en fasiliteite vir gesinne en jaareindfunksies,” voeg die departement by. Die Gariepdam-geleentheid sal die streek se uiteenlopende toerisme-aanbiedinge uitlig, en besoekers sal die geleentheid hê om selfs ’n kort entjie na die indrukwekkende damwal te stap.
Makume se besluit om die veldtog op ’n boot te loods, is simbolies bedoel – as uitnodiging aan toeriste om die Vrystaat wyer te verken.
“Dit is tyd vir Vrystaters om blywende herinneringe te skep – met vrede en rustigheid,” sê die departement. Met hierdie veldtog hoop die provinsiale regering om die plaaslike toerismebedryf ’n hupstoot te gee, werksgeleenthede te bevorder en die streeksekonomie te laat groei.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

