Central SA
Bedrogsaak oor Noord-Kaapse mynregte uitgestel tot Januarie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:58 Tue, 04 Nov 2025
                    
                    
                    
                    
                    
            Twee Noord-Kapenaars, wat van mynregtebedrog beskuldig word, kom na verwagting weer op 21 Januarie in die handelsmisdaadhof in Kimberley voor.
Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het Vrydag (31/10) in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die beweerde bedrieglike verkoop van mynregte.
Die beskuldigdes het op 10 September vir die eerste keer voorgekom in die Douglas-landdroshof, waar borgtog van R15 000 aan Crossingham en R800 aan Rapetsoa toegestaan is, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Crossingham het aanvanklik op 9 Julie verskyn voordat sy as ’n tweede beskuldigde bygevoeg is, terwyl Rapetsoa, ’n mededirekteur van Rowen Tree 60, vir die eerste keer op 19 Junie verskyn het.”
Aansoek teruggetrek
Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek teruggetrek het om prospekteerregte te hernu, nadat die departement van minerale hulpbronne en energie dit reeds verwerk het.
Crossingham word daarvan beskuldig sy het in 2012 ’n aparte aansoek teruggetrek toe sy mededirekteur van dieselfde maatskappy was.
Ten spyte hiervan word die vroue en hul mededirekteure daarvan beskuldig hulle het die maatskappy, insluitend ongeldige mynregte, in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop.
Voordat die betaling voltooi is, het Crossingham na bewering die maatskappy aan ’n ander koper verkoop en die kansellasiebrief versteek om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was, sê Thebe.

Ruan Maritz. Foto: Facebook/Ruan Maritz
“Die klaer, wat geglo het die regte was wettig, het na bewering R1,368 miljard betaal, waarvan R100 000 in een direkteur se persoonlike rekening gedeponeer is. Die klaer het uiteindelik die volle bedrag verloor.”
In ’n afsonderlike saak staan Ruan Maritz (30), ook van die Noord-Kaap, tereg op bedrogklagte nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het. Hy het op 10 Oktober in Hartswater se handelsmisdaadhof voorgekom, maar sy saak is tot 21 Januarie uitgestel.
Maritz het glo beweer hy was ’n makelaar vir Quick Trade Investment en Forex Trading, en het beleggers oortuig om ooreenkomste aan te gaan wat gelyke bydraes van albei partye vereis het, sê Thebe.
Hy het egter na bewering versuim om sy deel te verskaf. Maritz is op 25 Maart in hegtenis geneem en die volgende dag borgtog van R50 000 toegestaan.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.
                
                            
                            
                            
                            
                            
                    
                    
            
            
            