On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Matie se moordenaar tot lewenslange tronkstraf gevonnis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:27 Tue, 04 Nov 2025

Matie se moordenaar tot lewenslange tronkstraf gevonnis | News Article
Rudolph Hufke (regs) is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Jesse Mitchell. Foto: Facebook

Die moordenaar van ’n Matie, wat op sy 19de verjaardag beroof en doodgesteek is, sal die res van sy lewe agter tralies deurbring.

Rudolph Hufke (20) is Maandag (3/11) deur die Stellenbosse streekhof tot lewenslange tronkstraf en ’n bykomende 30 jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnis is opgelê nadat hy beken het hy het Jesse Mitchell, ’n B.Sc.-rekenaarwetenskapstudent, vermoor en beroof, en ’n ander slagoffer, Sikho Matimba. beroof.

Hufke het erken hy en ’n medepligtige het Matimba op 15 Oktober 2024 in Jan Cilliersstraat aangeval, sy rugsak gesteel en hom met ’n klip aangerand toe hy weerstand gebied het, sê Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse NVG-woordvoerder.

Slegs ure later, in die vroeë oggendure op die dag wat Mitchell, oudleerling van die Zwartkop Christian School in Centurion, 19 jaar oud geword het, het Hufke weer toegeslaan, hierdie keer noodlottig.

Familie van die vermoorde Jesse Mitchell, Alan, Kevin en Christina Mitchell. Foto: NVG

Kring-TV-beeldmateriaal wat in die hof gewys is, toon hoe Hufke in Borcherdstraat met ’n mes geloop het voordat hy Mitchell, wat op sy motorfiets was, in die nek gesteek het. Die slagoffer was blykbaar op pad na sy woonstel, sê Ntabazalila.

“Op die beeldmateriaal kan gesien word Mitchell het ’n entjie verder ineengestort terwyl Hufke teruggekeer het om sy rugsak te steel. Forensiese toetse het later die beskuldigde se vingerafdrukke en DNS bevestig aan die mes, wat op die toneel gevind is.”

Ten tyde van die hofverrigtinge het die aanklaer, William da Gras, aan die hof gesê Hufke se optrede was “brutaal en gevoelloos”. Hy het beskryf hoe hy op weerloses toegeslaan het en gesê hy het die misdade “bedwelmd” gepleeg.

Rudolph Hufke groet 'n familielid. Foto: NVG

Ntabazalila sê die hof het die moord beskryf as ’n “skrikbewind”, wat die Stellenbosse gemeenskap diep ontstel het.

“Hufke is tot lewenslange tronkstraf vir moord en 15 jaar op elk van die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, en hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.”

In ’n slagofferimpakverklaring het Mitchell se ouma Christina Mary Mitchell gesê haar kleinseun se dood spook steeds by haar. “Dit was sy 19de verjaardag. Hy het laat aan ’n groepopdrag gewerk en is op pad huis toe aangeval.

vonnis is ’n afskrikmiddel

“My grootste vrees is vir die familie van huidige studente. Ek hoop hierdie vonnis is ’n afskrikmiddel en ’n versekering vir ouers oor hul kinders se veiligheid op Stellenbosch,” sê die ouma.

“Die uitstekende werk van ons span het die beskuldigde gedwing om skuldig te pleit weens die onontkombare en toenemende bewyse teen hom,” sê Ntabazalila.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.