Central SA
Sakeman gee nuwe lewe aan ABO-foto’s wat hy digitaal inkleur, publiseer─── SUSAN MARÉ 13:16 Tue, 04 Nov 2025
’n Sakeman en geskiedenisliefhebber, wat ou, verslete swart-en-wit foto’s uit oorloë in kleur kan laat sprankel, het pas sy tweede boek gepubliseer.
Tinus le Roux van Somerset-Wes se Die Anglo-Boereoorlog in Kleur Volume 2 – Guerrilla Oorlog (1900–1902) is reeds landwyd op die rakke. Dit beloof om net so ’n treffer te wees soos die eerste volume wat oor die konvensionele Anglo-Boereoorlog (ABO) handel.
OFM Nuus het met Tinus gesels, wat sê hy was van kleins af geboei deur geskiedenis. Sy pa was ’n offisier in ’n plaaslike kommando en het hom dikwels na skiet- en veldoefeninge saamgeneem. Dit is waar die saadjie gesaai is en hy ’n intense liefde vir militêre geskiedenis ontwikkel het.

Die voorblad van Tinus le Roux se nuwe boek. Foto verskaf
Hy het ook ’n besonderse belangstelling in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM). Sy YouTube-onderhoude met 25 vlieëniers is al meer as 30 miljoen keer gekyk.
Teen ongeveer 2010 het hy ontdek dat swart-en-wit foto’s digitaal ingekleur kan word. Hy was dadelik beïndruk toe hy foto’s uit die Eerste en Tweede Wêreldoorlog op Facebook gesien het. Hy het dadelik navorsing begin doen en kers opgesteek by ander inkleurkunstenaars soos Doug Banks van Engeland – ’n gesaghebbende op die gebied van dié kuns.
Hy het ook YouTube-video’s en ander tutoriale oor die kuns gevolg en bestudeer. Sedertdien het hy sy eie tegnieke en individuele styl ontwikkel.
Tinus gebruik die programme Photoshop en Lightroom om sy kuns te beoefen – maar vir lewensgetroue foto’s is dit nodig om ook diep in die geskiedenis te delf en wyd navorsing te doen. Eindelik moet dit vir mense, wat deur die geskiedenis aangespreek word, óf vir mense in die film- of dramabedryf, wat kostuums en verhoogstelle moet ontwerp, ’n goeie verwysingsboek wees.
Sy aanvanklike inkleurwerk van pres. Marthinus Theunis Steyn van die Vrystaat het hy later verander toe hy ontdek het dat die president eintlik “rooierig” van gelaatskleur was. Met die inkleur van die bekende oorlogsfoto’s van Spioenkop moes hy byvoorbeeld baie moeite doen – die seisoene in ag neem, asook die streek se kleure en algemene natuuromgewing.
Dit is belangrik dat velkleur, omgewing, uniforms en toerusting geskiedenisgetrou moet wees. Die Britte se uniforms verskil van die Boere se oorlogsdrag – klere van wol, koordverweel en tweed met skakerings van bruin, swart, grys en mosterd.
‘Ek peuter nie aan foto’s nie – dis oneties’
Hy moes vir hom ’n palet van kleure skep waarmee hy kon werk. Die kleur van oë is ook ’n uitdaging.
“Ek peuter nie aan foto’s nie – dis oneties. Ek kan dit wel ‘skoon maak’.
“Met die hulp van Photoshop-tegnologie kan ek krappe en kolle ‘verwyder’ en aan verbleikte foto’s nuwe lewe gee. Oë … dit is altyd ’n uitdaging. Waar die kontras groot is, is die oë gewoonlik blou.”

Tinus le Roux (regs) en sy vrou, Tersia. Hy is die eienaar van die onderneming Western Cape Milling. Foto verskaf
“Dit is interessant om te weet die Britse offisiere het kameras gehad – Kodak-handkameras met films. Die films kon net in Engeland ontwikkel word en moes per skip na Engeland gaan – wat tydsaam was.
“Die guerrilla-fase van die Boereoorlog het minder foto’s opgelewer aan die Boeremagte se kant, want hulle het nie handkameras gehad nie.
Hulle het nog die antieke driepootkameras gebruik wat glasnegatiewe opgelewer het. Die aard van die guerrillastryd het dit onmoontlik gemaak om daarmee foto’s in die veld te neem.”

’n Ingekleurde foto van ’n burger en sy perd in die veld. Foto verskaf
Tinus het veral groot waardering vir die geskiedenisentoesias Nico Moolman – wat onlangs oorlede is – wat hom baie gehelp het omdat hy ’n skandeerder gehad het wat glasnegatiewe kon ontwikkel.
Hy werk gemiddeld drie tot vyf uur lank aan ’n foto – soms baie langer. Hy het uit duisende foto’s vir sy twee boeke gekies.
Nuwe oorlogsfoto’s in kleur en die trefkrag daarvan is deel van die suksesverhaal van Tinus se twee koffietafelboeke. Sy vermoë om met presisie in te kleur en met lig te speel – danksy gesofistikeerde kleurtegnologie – lei daartoe dat die leser (of kyker) ’n boeregeneraal of burger met nuwe oë te sien.
Hy laat “dooie” en verstarde gesigte sprankel op foto’s wat hy verbeter. Dit bied ’n vars en nuwe blik op die geskiedenis van die ABO.
“Vir my is die inkleur van foto’s ’n stokperdjie en lewenswyse. Ek hoop my boeke sal veral jonger mense van hulle geskiedenis bewus maak.”
Sy gunstelinggeneraal van die ABO? Ongetwyfeld genl. Koos de la Rey.

Van die blaaie in die boek ten tyde van die proefleesproses. Foto verskaf
Tinus woon in Somerset-Wes en in is die eienaar van Western Cape Milling. Hy is getroud met Tersia en die egpaar het twee kinders en een kleinkind. Sy gunstelingtydverdrywe is om video’s te maak en hy bedryf ’n webtuiste oor die SALM se betrokkenheid in die Tweede Wêreldoorlog.
As sportman neem hy deel aan driekamp (swem, fietsry en hardloop). Hy neem ook jaarliks deel aan die “halwe Ystermankompetisie”.
Die twee publikasies was vir hom baie bevredigend – veral die positiewe terugvoer en waardering van lesers. Hy wik en weeg nog oor sy volgende groot projek – maar dit is moontlik ’n hersiening van sy eerste boek, óf die SALM in die Tweede Wêreldoorlog in kleur.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh

