On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley se begraafplase vervalle, vergadering geëis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:43 Tue, 04 Nov 2025

Kimberley se begraafplase vervalle, vergadering geëis | News Article
Die munisipaliteit se verslagdoening oor begraafplaastoestande as skokkend en frustrerend. Foto ter illustrasie: iStock

Die DA eis alle betrokkenes in Kimberley moet die gemeenskapsdienste-eenheid se volgende vergadering oor begraafplase bywoon omdat dié rusplekke heeltemal verval.

Die party sê die saak is dringend en moet dadelik aandag kry. Al tien begraafplase in Sol Plaatje se munisipale gebied verkeer in ’n “skandelike en verslegtende” toestand.

“Die persele is oorgroei en onderhoud vind nie plaas nie. Die Ramatshela-begraafplaas in Galeshewe is ontoeganklik weens riool,” sê DA-rdl. Eleanor Badenhorst.

Die begraafplase is onversorg weens 'n gebrek aan behoorlike gereedskap. Foto: SABC News

“Die begraafplaaswerkers kla oor die gebrek aan behoorlike gereedskap en hulpbronne. Hulle het nie eers grassnyers om basiese onderhoudstake uit te voer nie.”

Sy beweer die begraafplaasbestuurder sit in sy bakkie die enkele kere dat hy die terreine besoek. “Mense wat die grafte van hul geliefdes besoek, doen dit op eie risiko.

“Vandalisme is aan die orde van die dag. Die ablusiegeriewe in die Ritchie-begraafplaas is onlangs vernietig, en die munisipaliteit sal ’n fortuin moet betaal om dit te herstel,” sê Badenhorst.

Kimberley se historiese Gladstone begraafplaas. Foto: Facebook

“Kimberley se begraafplase het brandpunte vir misdaad geword as gevolg van swak of niebestaande sekerheid.”

Badenhorst sê diefstal van begraafplaasheinings, veral gietysterheinings om ou en geskiedkundige grafte, is ’n besondere probleem.

Kabeldiewe slaan ook gereeld toe op die Roodepan-begraafplaas, voeg sy by. “Inwoners sit gereeld lang tye sonder krag. Pas verlede week is doringdraadheinings luidens berigte geknip, en diewe het probeer om toegang deur die vensters van die vervalle begraafplaaskantoor te verkry.”

Skokkende toestande

Sy spreek frustrasie uit dat niemand in Sol Plaatje-munisipaliteit blykbaar bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die voortdurende wanbestuur en misdade in begraafplase nie. “In plaas daarvan het ’n kultuur van minagting teenoor die oorledenes ontstaan, wat geen deernis vir bedroefde naasbestaandes toon nie.” 

Badenhorst beskryf ook die munisipaliteit se verslagdoening oor begraafplaastoestande as “skokkend en frustrerend”. “Die verslae is van swak gehalte en herwin herhaaldelik dieselfde inligting. 

“Bywoning van komiteevergaderings deur direkteure en bestuurders is treurig, wat dit toenemend moeilik maak om enigiemand aanspreeklik te hou vir die toestand van Sol Plaatje se begraafplase. Hierdie gebrek aan betrokkenheid belemmer ook die ontwikkeling van ’n behoorlike restourasieplan.”

Dringende regrukplan nodig

Sy sê baie begraafplase in Kimberley word as belangrike historiese bakens beskou. “Die DA het ’n formele versoek ingedien dat die burgemeester, speaker, burgemeesterskomitee, munisipale bestuurder, alle departementele bestuurders en direkteure die volgende vergadering van die gemeenskapsdienste-eenheid bywoon.

“’n Regrukplan moet dringend geïmplementeer word om te verseker die begrotingstoewysing van R300 000 lewer maksimum waarde vir geld,” sê Badenhorst en beklemtoon die begraafplase kan nie hulleself onderhou nie. “Die munisipaliteit is dit aan die mense van Kimberley verskuldig om postume waardigheid te verseker.”

Thabo Mothibi, Sol Plaatje-woordvoerder, het Dinsdag onderneem om “binnekort” ’n verklaring uit te reik.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.