Central SA
Philipstown hou eerste ‘Grand Prix’ vir draadkarre─── SUSAN MARÉ 08:29 Wed, 05 Nov 2025
Philipstown se eie “Formule 1-wedren” – of anders gestel, die Philipstown WireCar Grand Prix – is ’n eerste vir Suid-Afrika en trek weens sy unieke aard nasionale sowel as internasionale aandag.
Die tradisie, wat sowat 14 jaar gelede begin het, is vandag die simbool van ’n dorp wat in kreatiwiteit saamgespan het om hoop vir kinders te skep. Die nuutgestigde Philipstown WireCar Foundation (PWCF) – wat op gemeenskapsopheffing gemik is – is die dryfkrag agter die Grand Prix.
Die Grand Prix op 13 Oktober het die dorp in rep en roer gehad toe die jongklomp met hul skeppings stoftrappend deur die strate na die wenlint gejaag het, terwyl hulle die kletterende karretjies oor renbane van growwe oppervlakke, los klippertjies en sinkplaathobbels aandryf.

Die kinders gee hul verbeelding vrye teuels wanneer hulle hul draadkarre bou. Foto verskaf
Draadkarre as fenomeen dateer glo uit die 1800’s en is ook welbekend in ander Afrikalande. Met groot kreatiwiteit word die karretjies van afvaldraad en ander materiaal soos ou bottelproppe, blikmateriaal, afvalrepe van ou rubberbande en enigiets denkbaar gemaak.
Vir die kinders wat daarmee speel of resies jaag, is dit nie skeppings van afvalmateriaal nie, maar luukse en verbeeldingryke karre met ware enjins wat in die verbeelding dreun: Ferraris, BMW’s, hoë bakkies.
In ’n dokumentêre video sê Alastair King, ondervoorsitter van die PWCF, die deelnemers aan die resies het hulle harte in die ontwerp van hul karre gesit. Hul deelname is meer as net ’n kompetisie – dit is ’n getuigskrif vir hul geesdrif, hul trots en drome. Dit is ook ’n kragtige manier om weggooimateriaal te omskep in iets wat ’n doel het en inspireer.
Die PWCF het reeds ’n gebou in Philipstown begin restoureer wat as ’n plek van samekoms gaan dien, met ’n digitale leersentrum. Volgens Kay Fourie, medestigter van die oorspronklike resies en nou die PWCF se voorsitter, was dit nodig om die uniekheid van die resiesprojek aan ’n wyer gehoor bekend te stel.
Die wêreld moet van Philipstown se versteekte skat weet – sy verbeeldingryke kinders met soveel potensiaal.
“By die PWCF hoop ons die projek sal mense inspireer en dat hulle met respek en waardering daarna sal kyk – sonder om vir die kinders jammer te voel. Ons is daarop gefokus om die kinders van Philipstown op te hef en om vir hulle uitstekende geleenthede te skep.”
KYK VIDEO: Philipstown Grand Prix vir Draadkarre
Petrus van der Walt, ’n inwoner met wie OFM Nuus gesels het, is al vir jare die hoofbeoordelaar van die wedrenkarre.
“Deelnemers kan in verskillende ouderdomme deelneem en die afstande wissel van 1 tot 3 km. Dis kostelik om te sien hoe kreatief die kinders se karre is. Ek het al ’n Ford-draadkar gesien met ’n vreemde blikkie agterlangs, en toe ek vra waarvoor die blikkie is, is die antwoord: ‘Hierdie Ford lek olie, oom.’
“Van die karre het deurtjies wat oopmaak, liggies, wiele van blik of draad wat hulle self gemaak het, ’n stuurstelsel, ’n veerstelsel … Dis ’n groot geraas as hulle straataf jaag en stofwolke maak. Vanjaar met die Grand Prix het hulle in die lokasie gaan jaag – waar daar nie lorries deurry soos in die middedorp nie.”

Die trotse wenner op pad om die lint te breek, terwyl alles afgeneem word. Foto verskaf
Die dag van die Grand Prix was voorwaar aangenaam met kosstalletjies en rieldansers, sê Petrus. Hy het selfs oorsese toeriste gewaar. Die vrolikheid het hoog geloop. Danksy borge kon die wenners goeie pryse kry.
Alastair en Kay stem saam. “Die wêreld is so ingestel op inligting dat ons vergeet van die fisieke ruimte waarin ons ons bevind. As ’n mens daarin kan slaag om die twee sinvol te kombineer – rekenaarvaardighede toegepas op materiële vaardighede – kan ons ’n generasie grootmaak wat gereed is vir werk en help om ’n beter toekoms te vind.
“Al is dit net op hierdie piepklein plekkie in die Noord-Kaap.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh
