On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Familie doen stappe ná dood van NWU Vaal-rugbyspeler

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:22 Wed, 05 Nov 2025

Familie doen stappe ná dood van NWU Vaal-rugbyspeler | News Article
Vilano Saunders en Caitlin Venter. Foto Facebook

Naasbestaandes van ’n Noordwes-rugbyspeler, wat ses maande gelede ná ’n wedstryd gesterf het, is teleurgesteld oor die reaksie wat hulle sedert sy dood ontvang het.

Vilano Saunders (20) het op 5 Mei beswyk aan ’n ernstige nekbesering tydens ’n wedstryd tussen die NWU Vaal se o.21-rugbyspan en Springs op Vanderbijlpark. Hy het tydens ’n skrum gegly, ’n “knak” gevoel en sensasie van die nek af ondertoe verloor. 

CT-skanderings het getoon sy vierde en vyfde servikale werwels het verskuif, en hy is later na Sebokeng-hospitaal oorgeplaas, waar dokters vir die familie gesê het die swelling van die besering het sy rugmurg ernstig aangetas. As hy oorleef het, sou hy waarskynlik ’n kwadrupleeg geword het en ’n verkorte lewensverwagting gehad het.

Ondersoek kom ná Noordwes-rugbyspeler sterf | News Article

Vilano saam met sy ma, Lizelle. Foto verskaf

Riaan Venter, die pa van Saunders se meisie, Caitlin, sê die familie voel gefrustreerd en hartseer oor die manier waarop die ondersoek en kommunikasie oor die voorval hanteer is. 

Ettienne de Lange, uitvoerende hoof van die Valke-rugbyunie, het einde Augustus met Saunders se ma, Lizelle, Caitlin, en haar ma, Marsha, vergader om die verslag sowel as die uitslag van die ondersoek te bespreek.

Op een stadium, sê Venter, het die Valke beweer Vilano het die korrekte opleiding vir sy posisie ontvang. “Lizelle het onmiddellik beswaar gemaak en gesê dis onwaar, want almal weet hy het nog nooit voorheen haker gespeel nie.”

LEES OOK: Noordwes-rugbyspeler dood ná nekbesering

’n Onbekende man, wie se naam die familie nie kan onthou nie, het toe glo opgespring en op haar begin skree en gesê sy “weet nie waarvan sy praat nie”, beweer Venter.

“Dit het my regtig ontstel. Hulle het haar daar in die vergadering sonder enige ondersteuning in ’n lokval gelei. Sy is baie, baie emosioneel, en sy is so diep geraak deur alles. Dit was ’n absolute lokval, en ek is bitterlik ongelukkig met wat gebeur het.

“Die persoon wat veronderstel was om die vergadering te lei, De Lange, het pateties opgetree. Hoe kan jy op iemand skree wat treur – wat pas haar kind verloor het – en dink jy is deels te blameer? Wie gee jou daardie reg?”

LEES OOK: Ondersoek kom ná Noordwes-rugbyspeler sterf

Volgens Venter is hy toegang tot die vergadering geweier. “Toe Lizelle agterna per e-pos ’n afskrif van die verslag vra, het hy ons ook toegang daartoe geweier.”

Volgens Venter het SA Rugby blykbaar die verslag gesien en is hulle tevrede daarmee, ten spyte daarvan dat die familie toegang geweier is. “Ek verstaan net nie,” sê hy.

“Hoe kan hulle tevrede wees met die verslag as ons dit nie eers gesien het nie? Hoe kan ons dan beswaar maak ons nie weet wat binne in staan nie.”

Noordwes-rugbyspeler dood ná nekbesering   | News Article

Vilano Saunders. Foto verskaf

De Lange het sedertdien gesê slegs die ondersoekbeampte mag toegang tot die verslag hê. “Nou moet ons deur die prokureur gaan. Die prokureur sal dan na die polisie gaan en met hulle gaan sit en presies verduidelik wat aangaan.

“Dit is nou alles strafregtelike sake, aangesien Vilano oorlede is. Dus sal ons dit deur die polisie moet vervolg.”

Venter sê hulle wou aanvanklik nie ’n strafsaak aanhangig maak nie. “Ons wou net weet wat gebeur het en hoe om te verhoed dat dit ooit weer gebeur. Maar hulle dwing ons nou om verdere stappe te neem.

Duidelike foute gemaak

“Die familie wou net die geleentheid hê om hierdie kwessies met beide die universiteit en die Valke rugbyunie te bespreek. Ons wou vir hulle sê: ‘Luister, daar is duidelike foute wat hier gemaak is.’ Maar hulle gee ons nie die geleentheid om daarna te kyk en vir hulle te wys wat skeefgeloop het nie.”

Soortgelyke bekommernisse geld Midvaal-munisipaliteit sowel as Sebokeng-hospitaal. “Ongelukkig, omdat Vilano oorlede is, kyk ons nou na soveel dinge wat verbeter kon gewees het,” sê hy.

“Daar was byvoorbeeld ’n halfuur vertraging vandat hy beseer is totdat hulle besluit het om hom te vervoer – iets wat nooit moes gebeur het nie. Daar is ook ’n groot wanopvatting oor wat ‘ruggraatlyn’ of ‘ruggraatbelyning’ eintlik beteken.”

Caitlin Venter en Vilano Saunders. Foto verskaf

Die familie kan ook geen finansiële eise instel nie, sê Venter. “Omdat Vilano oorlede is, kan ons niks eis nie. Maar dit gaan nie oor geld nie; dit gaan oor verantwoordelikheid, oor aanspreeklikheid. Van die afrigtingspan, die Valke, Midvaal en die hospitaal. Daar is baie dinge wat skeefgeloop het.”

By navrae het lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, bevestig die polisie wag steeds op die lykskouingsverslag. “Wanneer die ondersoek voltooi is, sal die dossier na die hof geneem word vir ’n besluit.”

OFM Nuus het De Lange om kommentaar genader.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.