Central SA
Man wat meisie se eks aanrand dan weer in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:29 Wed, 05 Nov 2025
Die saak van ’n Klerksdorp-man wat aangekla word van poging tot moord, nadat hy na bewering sy meisie se eks aangerand het, is tot 9 Maart uitgestel vir verhoor.
Braam Rees van der Westhuizen (25) het Maandag (3/11) in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Die saak is op 25 September vir verdere ondersoek uitgestel, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder. “Die staat is nou reg vir verhoor.”
Van der Westhuizen word daarvan beskuldig hy het Michael Deysel (26), ook van Klerksdorp, op 17 Mei aangerand het, wat hom in ’n kritieke toestand in die hospitaal laat beland het. Deysel is in die Tshepong- tersiêre staatshospitaal opgeneem met breinbloeding, maar is later ontslaan.

Michael Deysel (26) het in ’n kritieke toestand in die hospitaal beland nadat hy op 17 Mei aangerand is. Foto verskaf
Deysel het vroeër aan OFM Nuus gesê hy “vaar goed onder die omstandighede”.
“Ek sukkel steeds van tyd tot tyd met pyn in my liggaam en moet steeds gereeld die hospitaal en dokters besoek vir toetse en opvolgondersoeke.”
Ten tyde van die beweerde aanranding was Deysel se eksmeisie swanger met hul kind. Sy het sedertdien geboorte gegee, en Deysel het bevestig sy babadogtertjie het op 22 Oktober een maand oud geword.
LEES OOK: Noordwester se aansoek om borgtog uitgestel ná wrede aanranding
Van der Westhuizen het hom op 30 Mei aan die polisie oorgegee nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
In ’n aparte saak word ’n ander Klerksdorper, wat daarvan beskuldig word hy het sy eksmeisie se kêrel in ’n parkeerterrein-onderonsie vermoor, op 2 Februarie weer in die hof verwag. Wernich Botha staan tereg vir die moord op Hilton Pretorius en poging tot moord op die sakeman PW Roos.
Die verhoor, wat oorspronklik vir drie dae vroeg in Augustus geskeduleer was, is uitgestel nadat Botha se prokureur, Hennie du Plessis, weens ’n misverstand nie in die hof verskyn het nie.

Wernich Botha verskyn op aanklagte van moord op Pretorius. Foto: Charne van der Merwe
Botha het Pretorius na bewering aangeval tydens ’n konfrontasie op 1 September 2023 buite Cadillac’s 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp. Pretorius het 18 dae later aan ernstige kopbeserings beswyk, terwyl Roos ’n skouerbesering opgedoen het.
Die verhoor, wat aanvanklik geskeduleer was om op 27 Januarie 2025 te begin, is verskeie kere vertraag terwyl die DOV die aanklagte hersien het. Hoewel daar oorweging was om die klag van poging tot moord te versag tot aanranding en strafbare manslag, het die DOV besluit om voort te gaan met die meer ernstige aanklagte van moord en poging tot moord.
Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem en later vrygelaat op borgtog van R2 000.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

