Central SA
Nog ’n beskuldigde sluit aan by hoëprofiel-Safa-bedrogsaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:20 Wed, 05 Nov 2025
Die bedrog-en-diefstalsaak waarby topamptenare van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) betrokke is, sal op 21 November in die Palmridge-landdroshof hervat.
Nog ’n beskuldigde sal na verwagting by die bestaande groep aansluit ná voortgesette ondersoeke. Die staat span sy net ál nouer om alle individue wat na bewering betrokke is by die misbruik van Safa-finansiering, sê Phindi Mjonondwane, Gautengse NVG-woordvoerder.
Russell Patrick Paul (64), voormalige waarnemende uitvoerende hoof Safa, is as die vyfde beskuldigde in die saak teen Danny Jordaan en drie ander bygevoeg hy geïmpliseer is deur getuienis in die verhoor.
Paul het na bewering met die ander beskuldigdes saamgesweer om bedrog en diefstal te pleeg deur betalings aan beskuldigde vier te magtig vir persoonlike dienste, wat aan Jordaan gelewer is tydens sy ampstermyn as waarnemende uitvoerende hoof, sê Mjonondwane.
“Hy het onder meer na bewering betalings aan beskuldigde vier met Safa-geld goedgekeur, al het Safa en die diensverskaffer nie ’n kontrak gesluit nie.”
Paul staan tereg op aanklagte van sameswering om bedrog te pleeg, of diefstal en bedrog.
Geregtigheid sonder vooroordeel
Hy het Woensdag (5/11) vir die eerste keer voorgekom in die Palmridge-landdroshof waar hy R10 000 borgtog toegestaan is nadat hy ten volle met die owerheid saamgewerk het.
Die saak is terugverwys hangende die uitslag van ’n verwante aansoek in die hooggeregshof waarin die verdediging die toelaatbaarheid betwis van bewyse, wat tydens ’n deursoeking-en-beslagleggingsoperasie by Safa-huis verkry is, sê Mjonondwane.
“Hierdie ontwikkeling onderstreep die NVG se verbintenis om te verseker alle individue aanspreeklik gehou word wat by misdaad betrokke is, en dat geregtigheid sonder vrees, begunstiging of vooroordeel geskied,” sê Mjonondwane.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.


