On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ses verdagtes in Welkom-bejaarde se aanranding straks in Desember verhoor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:12 Mon, 10 Nov 2025

Ses verdagtes in Welkom-bejaarde se aanranding straks in Desember verhoor | News Article
Anna Fourie en Lynette Brummer in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die ondersoek is afgehandel in die saak waarin ses mense na bewering betrokke was by die aanranding op ’n bejaarde in ’n Vrystaatse versorgingsoord. Die beskuldigdes verskyn in Desember in die hof.

Welkom se landdroshof was Vrydag (7/11) stampvol toe Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) verskyn het. Hul verhoor in die streekhof sal na verwagting op 8 Desember begin.

Die ses staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, ontvoering en die oortreding van Artikel 13 van die Wet op Ouer Persone ná die aanranding op Bettie Payne (81).

Brummer, wat ’n senior pos beklee het en ook ’n aandeelhouer van die sorgoord was, word as die hoofbeskuldigde beskou. Haar prominente rol in die beeldmateriaal maak haar die hoofverdagte, sê ao. Anja Tait, ondersoekbeampte.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf

Sy is vrygelaat op borgtog van R5 000 en onder streng voorwaardes. Sy moet onder meer minstens 100 m van die instelling af wegbly en haar paspoort binne ses uur ná haar vrylating indien.

Die ander vyf is elk borgtog van R1 000 toegestaan.

’n Bron, wat naamloos wil bly, het Vrydag (7/11) aan OFM Nuus gesê daar is na bewering meer as 40 video-opnames wat deel uitmaak van die bewysstukke teen die beskuldigdes.

Video’s sleutelbewysstukke

Een van hierdie video’s, wat na bewering die aanranding vasgevang het, word as ’n sleutelbewysstuk in die saak beskou. Dit wys glo hoe Brummer pille in Payne se mond forseer, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat die bejaarde vrou geweier het om haar medikasie te neem.

Toe Payne skree, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om haar mond en kop gedraai.

Tydens ’n vorige hofverrigtinge het Tait getuig die video is opgeneem deur ’n sigbare kamera wat in die kamer geïnstalleer is. Personeellede was daarvan bewus. Die beeldmateriaal is sedertdien aan ondersoekbeamptes oorhandig.

Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook by die wanoptrede betrek. Fourie het na bewering die kamer met ’n foon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het, en twee ander het na bewering staan en toekyk sonder om in te gryp.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane en Mapaseka Majorobella in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Brummer word daarvan beskuldig sy het Payne later met ’n kombers toegemaak, vir haar gesê niemand sou haar hoor nie, die ligte afgeskakel en die kamer verlaat.

Payne se dogter, Mariana Payne, het weer in die voorste ry gesit, soos sy by elke vorige verskyning was.

Ná die voorval het Fourie bedank, terwyl die ander ná tugverhore ontslaan is.

Intussen het Daniel Botha en Eben Lee die bestuur van die kompleks op 1 September oorgeneem en dit tot DanLee Care hernoem.

Sedert 1 September is Daniel Botha en Eben Lee aan die stuur van sake, en die oord is herdoop na Danlee Care. Foto verskaf

Mariana sê haar ma se toestand het verbeter sedert die bestuursverandering. “Vandat die nuwe bestuur oorgeneem het, het dinge drasties verander – op ’n goeie manier. Die mense daar sorg nou baie goed vir hulle.”

Die verdediging het voorheen die staat daarvan beskuldig dat hy die verrigtinge vertraag en die wettigheid van die inhegtenisnemings bevraagteken sowel as die geloofwaardigheid van Tait se beëdigde verklaring, wat swaar op die videobeeldmateriaal berus.

Tait het later na die instelling teruggekeer om die indiensnemingsrekords van al die personeellede te bekom, maar dokumentasie met betrekking tot Brummer is na bewering nie beskikbaar nie.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.