On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Krag teen krag in Klerksdorp-armdrukkompetisie!

───   11:55 Thu, 13 Nov 2025

Krag teen krag in Klerksdorp-armdrukkompetisie! | News Article
Riekerd Bornman in aksie tydens ’n vorige kampioenskap. Foto: Facebook

Groot belangstelling heers in ’n armdrukkompetisie met ’n internasionale geur Saterdag (15/11) in Klerksdorp.

Die Zambesi Golden Arm-armdrukkompetisie vanaf vroegoggend in die Askari Sports Bar in Klerksdorp dien ook as ’n kwalifiseringsbyeenkoms vir die provinsiale kampioenskap, sê organiseerder Kobus Prins. Die groot trekpleister is die deelname van twee pare broers, wat in ’n superkompetisie mekaar die stryd aansê. 

Enigiemand kan egter inskryf.

Die broers Duvan en Riekerd Bornman (links) en Koos en Niekie Fourie (regs) sê mekaar die stryd aan. Foto: Facebook

Die kompetisie sluit verskeie gewigsklasse in vir mans, vroue en kinders onder 15 jaar, met pryse van R600 vir ’n eerste plek, R300 as jy tweede kom en R200 vir die derde plek. Trofees en medaljes kan ook gewen word. 

Die inskrywingseld is R50 per arm – deelnemers kan met die linker- of regterarm meeding – of R100 vir albei arms. Teen Vrydagoggend (14/11) was daar reeds sowat 50 inskrywings, wat ook vroue insluit.

Die hoogtepunt is sonder twyfel die kragmeting tussen die Bornman-broers, Riekerd en Duvan, en die Fourie-broers, Koos en Niekie.

Bornman vs. Fourie

Riekerd het vir ’n tydperk in Australië gewoon waar hy gaan rugby speel het totdat ’n besering sy planne in die wiele gery het. Hy het begin armdruk en gou die aandag op hom gevestig. 

Hy het eerste geëindig in die nasionale kompetisies in Nieu-Seeland en Australië, maar onlangs na Suid-Afrika teruggekeer, sê Prins. Sy naam verskyn nog nie op die Suid-Afrikaanse ranglys nie.

Koos is Suid-Afrika se huidige nommer een in die linkerarm-afdeling en nommer twee in die regterarm. Sy titel as die linkerarmkampioen is op die spel.


Deelnemers wat vooraf registreer, kwalifiseer vir ’n gelukstrekking. Die inweeg begin om 07:00 en die kompetisie om 09:00.

Die manskategorieë sluit in:

  • Onder 80 kg (links en regs)
  • 80-90 kg (links en regs)
  • 90-100 kg (links en regs)
  • 100-110 kg (links en regs)
  • 110 kg en meer (links en regs)

Vrouekategorieë:

  • Onder en bo 65 kg (links en regs)

Kinders onder 15:

  • Onder en bo 60 kg (links en regs).

Vir meer inligting, besoek die Kraken-armdrukklub se Facebookblad.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.