Central SA
Wat doen Possies se hoof heeldag op ’n vlot?─── 13:33 Thu, 13 Nov 2025
Die hoof van die Willem Postma Primêre Skool bring Donderdag (13/11) die hele dag op ’n vlot in die skoolswembad deur.
Dit is nie omdat Sakkie Matthee nie wil skoolhou nie, maar omdat daar iets is om te vier. Sy afdag op die vlot gaan daaroor dat die skool sy doelwit met ’n geldinsameling deur ’n spelkompetisie behaal het, sê Benita Jacobs, bemarker van die skool.
Verlede jaar was hy op die dakkie en vanjaar sit hy rustig en ontspanne op ’n vlot in die skoolswembad terwyl kinders in die water om hom kraai en jil.
Die vorige rekord (in 2024 behaal) is oortref, en vanjaar se spelkompetisie het vir ’n rekordbedrag gesorg. Die belangrikste is dat die graad 3’s die kompetisie gewen het en dat hulle Donderdag mag swem, terwyl hul hoof op die water dryf.
Die vlot is deur die gr. 6-Voortrekkerseuns, die Leeu-span, onder leiding van Josua Viljoen gebou. Dit lyk darem of die vlot goed gebou is en heeldag gaan dryf, met Matthee aan boord.
Met die insameling kon heelwat prettige doelwitte behaal word. Dit sluit in skooldrag vir die kantoorpersoneel, “slime dunk”, waterballon-tennis, bokdrolspoeg, grimering deur die manspersoneel, “silent disco” en vasgevang in ’n springkasteel vir ’n hele pouse.
Dit kook behoorlik by Willem Postma met aktiwiteite van bokdrolspoeg tot waterballontennis.
Matthee betuig sy dankbaarheid teenoor elke Possie, elke ouer, die gemeenskap wat bygedra en ook die personeel met hul goeie gees. “Baie dankie!” sê hy vanaf die dek van die vlot.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh

