On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaap: Swaar reën en storms verwag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 05:54 Sat, 15 Nov 2025

Noord-Kaap: Swaar reën en storms verwag | News Article
Swaar reën word in die Noord-Kaap verwag. Foto ter illustrasie: iStock

Mense in die Noord-Kaap moet die volgende paar dae waaksaam bly weens die weerstoestande.

Na verwagting sal dit van Saterdag (15/11) tot Maandag (17/11) duur. Motoriste is gewaarsku om versigtig en waaksaam te bestuur.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê swaar reën, oorstromings, donderstorms, skadelike winde, hael, weerlig en 'n skerp daling in temperature word verwag.

Hierdie toestande hou aansienlike risiko’s in vir motoriste en voetgangers.

Fufu Makatong, Noord-Kaapse LUR vir paaie en openbare werke, dring daarop aan alle padgebruikers moet hul veiligheid prioritiseer en verantwoordelike besluite neem terwyl hulle reis:

Padveilgheid

  • Vermy reis in die nag aangesien sigbaarheid aansienlik afneem tydens storms en swaar stortreën.
  • Let op padtekens en waarskuwings veral in gebiede wat bekend is vir oorstromings of waar padwerke gedoen word.
  • Verminder spoed, hou hoofligte aan en handhaaf ’n veilige volgafstand.
  • Moet nooit probeer om oorstroomde paaie of laagliggende brûe oor te steek nie want die water kan vinnig styg. 
  • Beplan roetes en laat ekstra reistyd toe vir moontlike vertragings.

Inwoners word ook aangemoedig om die departement te help deur erg beskadigde paaie aan te meld. Padgebruikers kan ’n GPS-ligging op WhatsApp stuur na 066 581 5626. Dit sal instandhoudingspanne help om akkuraat te kan reageer gedurende die ongunstige weersomstandighede.

“Die veiligheid van elke padgebruiker bly ons grootste prioriteit,” sê Makatong.

“Ons doen 'n beroep op motoriste om waaksaam, geduldig en verantwoordelik op ons paaie te wees. Weerstoestande kan vinnig verander en gevaarlik word. Laat ons saamwerk om ongelukke te voorkom en lewens te red.”

Volg die weerdiens en departement se waarskuwings op hul amptelike sosialemediaplatforms. 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.