Central SA
Sommige matrieks in Parys toegang tot eksamenlokaal geweier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:50 Sat, 15 Nov 2025
Vrae gaan aan die Vrystaatse onderwysdepartement gerig word nadat ’n groep matriekleerders glo verhoed is om hul eindeksamen af te lê.
Die matriekeksamen bepaal ’n leerder se toekoms, maar talle leerders in Parys is glo verhoed om van hul vakke te skryf. Dit was nie die eerste keer dat eksamentoegang by die skool ter sprake gekom het nie.
Vyf matriekleerders by die Boitlamo Secondary School is na bewering op 30 Oktober weggewys om hul eindeksamen te skryf, sê Carina Serfontein, DA-raadslid in die Ngwathe-munisipaliteit.
“Een leerder het glo sy familie om hulp gebel nadat hy toegang tot die eksamenlokaal geweier is.” Serfontein sê die leerling se ma het na die skool gejaag en daarop aangedring dat hy toegelaat word om te skryf. Die skoolhoof het hom uiteindelik in die lokaal toegelaat.
Uitsluiting
“Die ander vier leerders is nie dieselfde geleentheid gegun nie en die rede vir hul uitsluiting is steeds onbekend."
’n Soortgelyke voorval het op 27 Oktober plaasgevind toe vier leerders na bewering verbied is om hul rekeningkundevraestel te skryf.
Serfontein sê hierdie herhaalde ontwrigtings beklemtoon kommerwekkende kwessies oor eksamenadministrasie, kommunikasie en leierskap by die skool.
“Ons jongmense dra die toekoms van hierdie land. Elke eksamen wat hulle vandag misloop beperk die Suid-Afrika wat ons môre wil bou.”
Die DA in Ngwathe beplan om vrae hieroor aan die Vrystaatse departement van onderwys te stuur. ’n Volledige en dringende ondersoek sal ook versoek word oor waarom hierdie leerders uitgesluit is.
Saak monitor
Die party wil ook antwoorde hê van die skool se bestuur en die Fezile Dabi-distrik se onderwyskantoor. Hulle sal die saak monitor om te verseker die betrokke leerders kry die geleentheid om dit te kan skryf.
Die saak is ook na die DA-koukus in die Vrystaatse wetgewer verwys vir verdere toesig en betrokkenheid by die provinsiale LUR vir onderwys.
Navrae is aan Sibusiso Majola, departementele woordvoerder, vir kommentaar gestuur.
OFM Nuus dg

