On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Sterkman Rayno Nel bult die naweek sy spiere op Upington

───   SUSAN MARÉ 11:01 Sat, 15 Nov 2025

Sterkman Rayno Nel bult die naweek sy spiere op Upington  | News Article
Rayno Nel is die sterkste man in die wêreld. Foto verskaf

Die naweek vind ’n geskiedkundige gebeurtenis by die Hoërskool Duineveld op Upington plaas.

Rayno Nel, die sterkste man in die wêreld, neem aan die Sterkman-kampioeneliga se finaal deel. Hy is ’n oudleerling van die skool en gaan sy krag, uithouvermoë en vasberadenheid gebruik om die beste van die beste die stryd aan te sê. 

“Die trotse Kalahari-seun gaan sy spiere bult soos nog nooit tevore nie en almal op Upington word na hierdie geleentheid uitgenooi,” sê Deodat (Boats) Botes, bemarker van die skool. Daar is kosstalletjies, ’n biertent en baie pret vir die hele gesin. Die toegangsgeld is R50 vir volwassenes, R30 vir hoërskoolkinders en gratis vir laerskoolkinders. 

Rayno Nel. Foto verskaf

Nel het op 18 Mei die verdedigende kampioen Tom Stoltman in Sacramento in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië gewen en die eerste man geword om buite Europa of Noord-Amerika die 48 jaar oue kompetisie te wen. In die finaal van die Atlas Stones-afdeling het hy sy vierde steen (klip) met sekondes voor sy teenstanders gelig. 

Dié Upington-boorling is 1,91 m lank en word beskryf as ’n sagmoedige reus. Hy het na ’n kort loopbaan in rugby vir die Cheetahs ’n meestersgraad in ingenieurswese behaal en werk as elektriese ingenieur.

Sy ouers, Jannie en Bernice, is ook opgewonde om hul seun op Upington te sien deelneem. Die topvyf-sterkmanne in die wêreld is Rayno Nel (Suid-Afrika), Tom Stoltman (Skotland), Michell Hooper (Kanada), Trey Michell (Amerika) en Paddy Haynes (Engeland).

Trots Upington

OFM Nuus het met Judy Swart een van die ouers van die Hoërskool Duineveld gesels. Sy sê hierdie naweek is ’n groot geleentheid vir Upington. “Rayno was in die skool en is ’n nederige jong man en ’n inspirasie vir kinders. Tydens die skool se Groot Interjol in Augustus het hy die skool tydens die Groot Brag toegespreek.

Sy boodskap aan die leerlinge was om nooit op te hou droom nie en drome kan bewaarheid word deur harde werk. “Ons is so trots op hom. Trots Upington!”

Die naweek se deelnemers kom van Amerika, Duitsland, Hongarye, Pole, Ghana, Swede, Engeland, Nederland en Italië. Die wenner word Sondagmiddag (16/11) aangewys.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.