Central SA
Rommelmonument in Bethlehem opgerig weens afval-frustrasie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:54 Sun, 16 Nov 2025
’n Burgelike organisasie het ’n simboliese “rommelmonument” in Bethlehem onthul om die voortdurende ineenstorting van basiese vullisdienste in die dorp uit te lig.
Bethlehem-inwoners is al vir maande gefrustreerd en verleë terwyl afval in strate en openbare ruimtes ophoop sonder enige daadwerklike reaksie van plaaslike owerhede, sê Christa Ikking, AfriForum se distrikkoördineerder. “Die monument, opgerig in Lughahavestraat, bestaan uit ’n hout- en draadraam gevul met rommel wat uit die omliggende gebied versamel is,” verduidelik sy.
Volgens Ikking is die struktuur ontwerp om die omvang van die probleem visueel te wys en die verwaarlosing waarmee inwoners daagliks gekonfronteer word, te beklemtoon.

’n Simboliese “rommelmonument” is in Bethlehem onthul om die voortdurende ineenstorting van basiese vullisdienste in die dorp uit te lig. Foto: AfriForum
“Die situasie sleep al jare aan. AfriForum het die afgelope twee jaar herhaaldelik aan die munisipaliteit geskryf en die kwessie ook tydens jaarlikse GOP-vergaderings geopper.
“Ons het gewaarsku oor besoedeling, brandgevare en die toename in plae wat deur onbeheerde vullis veroorsaak word. Ongelukkig word ons bekommernisse telkens geïgnoreer,” sê sy.
Dit is juis hoekom AfriForum volgens haar ’n meer sigbare standpunt ingeneem het.

Rommel in Bethlehem se sakegebied. Foto: Afriforum
Sy bevraagteken waarom basiese skoonmaakwerk nie gedoen word nie, aangesien die munisipaliteit oor personeel én ’n werkende vullisvragmotor beskik.
“Daar is werkers wat daagliks rommel optel en die munisipaliteit het ’n funksionele vullisvragmotor. Waarom kan die sakekern dan nie skoon gehou word nie?” vra sy.
AfriForum doen nou ’n beroep op die gemeenskap om saam te staan, hul stem te laat hoor en die basiese dienslewering te eis waarop hulle geregtig is. “Dit is tyd dat die munisipaliteit sy grondwetlike verpligtinge nakom,” sê Ikking.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

