Central SA
Verdagtes soek ná twee rooftogte in Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:49 Mon, 17 Nov 2025
Niemand is nog in hegtenis geneem nie ná twee juwelierswinkels in twee Bloemfonteinse winkelsentrums oor die naweek beroof is nie.
Gewapende rowers het Sondag (17/11) toegeslaan op HDL Juweliers in Mimosa Mall, asook Jewl Craft in Northridge Mall. Die ses verdagtes in die laasgenoemde voorval is kort voor hul vlugtog op videomateriaal opgemerk, waar gesien kan word hoe hulle uit die winkel hardloop.
Sommige dra swartsakke wat vermoedelik gesteelde juweliersware bevat.

Die motor waarmee die verdagte gevlug het. Foto: Skermgreep/videobeeldmateriaal
Op die beeldmateriaal word gewys hoe die verdagtes verby Cape Union Mart en Woolworths hardloop voordat hulle die winkelsentrum verlaat. Oomblikke later, omstreeks 09:52, stop ’n wit Suzuki Dzire en klim die groep vinnig in voordat die bestuurder wegjaag.
Juweliersware ter waarde van sowat R250 000 is gesteel, sê lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder.
Johan Visser, operasionele bestuurder by Northridge Mall, het die voorval aan OFM Nuus bevestig. “Ons kan nie op hierdie stadium verdere inligting vrystel nie. Die polisie ondersoek die saak.”
’n Afsonderlike gewapende rooftog het omstreeks 12:20 by HDL Juweliers in Mimosa Mall plaasgevind. “Vyf onbekende mans het die winkel binnegestorm, werknemers met vuurwapens gedreig en hulle beveel om op die vloer te lê,” sê Covane.
Die verdagtes het na bewering juweliersware en ’n onbekende bedrag kontant geroof. Volgens Covane het hulle pette en maskers gedra.
“Die rowers het van die toneel gevlug in drie voertuie: ’n wit BMW, ’n wit Volkswagen Golf 7 en ’n wit Mercedes-Benz.” Twee skote is binne die winkel afgevuur, maar niemand is beseer nie.
HDL gesluit
“Weens ’n gewapende roof sal HDL vir ’n paar dae gesluit wees. Ons waardeer u begrip en laat weet sodra ons weer oop is,” sê die winkel in ’n verklaring. ’n Saak van sakeroof is by die Parkweg-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Lede van die publiek met inligting oor die Northridge Mall-rooftog kan lt.kol. Kholisile Alfred Nqukuva by 082 467 6081 nader. Verstrek inligting oor die Mimosa Mall-rooftog aan kapt. Sabata Jafta Moseme by 082 526 2713.
Inligting kan ook deur die MySAPS-app ingedien word of Stop Misdaad by 08600 10111 gebel word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh 

