Central SA
Upington-egpaar se vermeende aanvaller laat vaar borgtogaansoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:15 Tue, 18 Nov 2025
Die vermeende aanvaller van ’n bejaarde egpaar van Upington bly in polisieaanhouding totdat hy na verwagting weer op 12 Januarie voorkom.
Gilliano Maasdorp (36) het Maandag (17/11) vir die eerste keer in die Upington-landdroshof verskyn. Hy het besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.
Maasdorp staan tereg weens die moord Saterdag (15/11) op Hennie Muller (82) en poging tot moord op sy vrou, Debbie (72). Hy word ook aangekla van brandstigting, omdat hy glo die egpaar se huis aan die brand gesteek het, en van diefstal, roof en regsverydeling.
Inwoners van Upington het tydens die hofverskyning buite die hof bymekaargekom en ’n petisie, wat honderd mense onderteken het, aan die landdros oorhandig.

Die brandweer blus die brand by die egpaar se huis. Foto: Anthoney Allen
Die DA sê hy is diep geskok oor die moord en die aanval weerspieël ’n toenemende krisis in geweldsmisdaad op die Noord-Kaap se grootste dorp.
Die party veroordeel die wreedheid daarvan en sê inwoners kan nie aanhou om in vrees te leef terwyl misdaad in die gebied buite beheer raak nie.
“Ons vra die polisie en Dawid Kruiper-munisipaliteit om dringend doeltreffende maatreëls te tref om te verhoed sulke verskriklike dade vind weer plaas,” sê Henk Opperman, DA-sweep.
Wydverspreide vrees
AfriForum het ook Maandag die beskuldigde se eerste hofverskyning bygewoon. Dié organisasie sê die moord het wydverspreide vrees en frustrasie in die gemeenskap veroorsaak; sterker, meer sigbare polisiëring is noodsaaklik.
As deel van AfriForum se “ankergemeenskapstrategie” – Upington is aangewys as ’n kernfokusgebied – sal die organisasie aanhou druk uitoefen vir “werklike, praktiese” ingrypings “om die mense van Upington te help beskerm.
Die gemeenskap moet ondersteun word terwyl mense hulself probeer beskerm teen toenemende geweldsmisdaad, sê Thomas van Dalen, Noord-Kaapse streekhoof van AfriForum.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

