On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vennootskap gee opkomende boer hupstoot

───   14:39 Wed, 19 Nov 2025

Vennootskap gee opkomende boer hupstoot | News Article
Kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa, wat op ’n gedeelte van die plaas Jagersfontein in die Mafikeng-distrik boer, het ’n sonaangedrewe drupbesproeiingstelsel ontvang om haar produktiwiteit en winsgewendheid te verhoog. By haar is Barend Uys van AfriForum. Foto verskaf

’n Gesamentlike inisiatief tussen AfriForum, Saai en die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting gee nuwe momentum aan die boerderydrome van kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa van die Mahikeng-omgewing in Noordwes.

Die jong boer, wat tans op ’n gedeelte van die plaas Jagersfontein in die Mafikeng-distrik boer, het ’n sonaangedrewe drupbesproeiingstelsel ontvang om haar produktiwiteit en winsgewendheid te verhoog. Sy het reeds in 2024 ’n suksesvolle aartappeloes van 200 sakke gelewer. 

In die huidige seisoen het Moiloa, medestigter van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting, aartappels, tamaties, soetrissies, groenbone en rooi uie aangeplant, terwyl sy ook vir die tweede keer aartappelproewe vir die Landbounavorsingsraad uitvoer. 

Die sonkragstelsel wat Gaongalelwe Moiloa ontvang het. Foto verskaf

As begunstigde van die Batsweneng Gemeenskaplike Eiendomsvereniging, wat die plaas besit, is haar boerdery ’n voorbeeld van hoe gemeenskapsgrond benut kan word om volhoubare ontwikkeling te bevorder, sê AfriForum in ’n mediaverklaring.

“My droom is om tot ’n volwaardige kommersiële boer te groei sodat ek na my familie kan omsien en ook tot my gemeenskap kan bydra deur werk te skep,” sê Moiloa. “Ek is baie dankbaar en opgewonde oor die positiewe impak wat die besproeiingstelsel op my boerdery se winsgewendheid gaan hê.”

Die stigting help ook ander vroue om groentetuine by hul huise te begin, wat nie net gesinne voed nie maar ook inkomste genereer.

Aartappelplante op Gaongalelwe Moiloa wat onder sonaangedrewe drupbesproeiing is. Foto verskaf

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, beklemtoon die belang van kommersialisering. “Ons land en streek het meer kommersiële boere nodig. Kommersialisering van opkomende boere dra nie net by tot voedselsekerheid nie, maar skep ook welvaart wat die enigste volhoubare manier is om armoede die hoof te bied.”

Die vennootskap wys hoe kultuurgemeenskappe saam kan werk, sê Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudinge en samewerking by AfriForum. 

“Die vestiging van goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe is noodsaaklik vir ’n voorspoedige en vreedsame naasbestaan. AfriForum is dankbaar dat ons die vermoë het om by ’n inisiatief met soveel potensiaal betrokke te wees.”

Historiese bande herleef

Moiloa se familiegeskiedenis dra besonderse betekenis. Sy is ’n direkte afstammeling van Kgosi Moiloa II, leier van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa van 1845 tot 1875, wat bekend was vir sy bondgenootskap met die Voortrekkers en goeie verhoudinge met die Afrikaners van die Zuid-Afrikaansche Republiek. 

Hierdie geskiedenis van samewerking dien as inspirasie vir die huidige vennootskap, sê Moiloa. “Die handel en bondgenootskap tussen ons voorouers het ’n belangrike rol gespeel om die voortbestaan van ons gemeenskappe destyds te verseker. 

“Vandag het ons weer die geleentheid om saam te werk en vennootskappe te smee om ’n goeie toekoms vir die kinders van die verskillende kultuurgemeenskappe in die land te verseker.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.