Central SA
Leukemie-lyer van Heidedal vra hulp─── REFILWE BEKANE 11:26 Thu, 20 Nov 2025
’n Jong man van Heidedal in Bloemfontein sê hy kan enige oomblik inmekaarsak en het deurlopende toesig nodig weens ALL, ’n akute bloedkanker.
Luciano Langeveldt (27) is in Mei met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer nadat hy geruime tyd bors- en rugpyn ervaar het. Ná verskeie verkeerde diagnoses het ’n huisarts uiteindelik bloedtoetse gedoen, wat die bloedkanker bevestig het.
“Hy het my nie eens laat betaal vir die laboratoriumkoste nie, want ek was baie swak,” vertel Langeveldt.

Luciano Langeveldt. Foto: Facebook
Die risiko van infeksie het hom gedwing om sy werk as barbier te staak, waar hy tot 500 kliënte per maand kon bedien. Hy ontvang nou behandeling by die Universitas-hospitaal, maar sê daar is onsekerheid oor of die volledige behandelingsproses, wat jare kan duur, wel daar voltooi kan word om sy kanker in remissie te kry.
Sy finansiële situasie het intussen verswak. Hy ontvang ’n maandelikse Sassa-toelae, maar dit dek nie sy daaglikse kostes en weeklikse taxiritte hospitaal toe nie.
Hulp dringend nodig
“Ek kan nie loop nie weens die risiko van infeksie. My werk is om hare te sny, so ek verloor my inkomste as gevolg van die risiko. Ek kan ook nie mooi na my kind kyk nie,” sê Langeveldt.
Weens sy brose gesondheid en beperkte mobiliteit is hy die meeste van die tyd aan sy huis gekluister, al probeer hy kort entjies stap om sy krag en moed te behou.
Langeveldt doen ’n beroep op die gemeenskap vir geldelike hulp of skenkings van kos, klere of noodsaaklike items. Vir meer inligting kan mense Gregory Werner se Facebookblad besoek.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

