On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Geslagsgeweld tot nasionale krisis verklaar

───   REFILWE BEKANE 12:00 Fri, 21 Nov 2025

Geslagsgeweld tot nasionale krisis verklaar | News Article
Pres. Cyril Ramaphosa het kort voor die G20-beraad in Johannesburg geslagsgeweld tot nasionale krisis verklaar.

Geslagsgeweld en vrouemoord is op die vooraand van die nasionale stilstand tot ’n nasionale krisis verklaar.

Die landwye protes Vrydag (21/11) teen dié misdade is ’n projek van Women for Change. Dié organisasie sonder winsoogmerk sê dit is in reaksie op die hoë voorkoms in Suid-Afrika van geweld en misdaad teen veral vroue.

Die dag is uitgeroep nadat Women for Change by die regering gepleit het om strenger op te tree. 

Die organisasie het pres. Cyril Ramaphosa versoek om geslagsgeweld tot ’n nasionale ramp te verklaar. Dit sou die regering in staat stel om noodhulpbronne aan inisiatiewe teen dié misdaad toe te wys.


">

’n Versoekskrif is ook opgestel met sowat 1 miljoen handtekeninge, waarin gevra is dat geslagsgeweld tot ’n nasionale ramp verklaar word.

Ramaphosa het in sy reaksie kort voor die G20-beraad in Johannesburg aangekondig die misdaad word tot nasionale krisis verklaar. 

Die krisis kan nie ontken word nie, het hy gesê. “Die vroue het nodig dat veel meer aandag aan dié probleem geskenk word. Hulle het beskerming en ondersteuning nodig, hoofsaaklik van die regering, maar ook van mans in Suid-Afrika.”

Sy verklaring het talle organisasies en inwoners landwyd aangespoor om die beweging op verskillende maniere te ondersteun.




Women for Change is gestig deur Sabrina Walter. “Ons is daar vir die vroue. Ons luister na hulle, ons glo hulle en ons ondersteun en lei hulle. Ons kry beradingsdienste vir hulle, regsdienste of wat hulle ook al nodig het,” sê sy.

Walter het die organisasie in 2016 gestig in reaksie op ’n tragedie toe 'n jong meisie, Franziska Blöchliger, wreed in die Tokai-woud in Kaapstad verkrag en vermoor is toe sy daar gaan draf het.

Walter het ook ’n drawwersklub net vir vroue gesig, Catch Me If You Can, om vroue te bemagtig en hulle veilig te laat voel deur in ’n groep saam te oefen.

“Van die begin tot vandag bedryf ons alles sonder enige formele finansiering. Ons is ’n klein span, en ons werk elke dag met honderde gevalle,maar ek dink die grootste uitdaging bly die stelsel self,” sê Walter.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Refilwe Bekane cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.