Central SA
Kommer heers oor geselskap waarin vermiste bejaarde van Vaaldriehoek hom bevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:10 Mon, 24 Nov 2025
’n Vermiste bejaarde van die Vaaldriehoek se naasbestaandes vrees vir sy veiligheid, omdat hy hom vermoedelik bevind in die geselskap van met ’n man met n “kommerwekkende verlede”.
Jacobus Marthinus (Kobus) Burger (84) is laas gesien toe hy sy huis op Vanderbijlpark op 6 November omstreeks 17:45 verlaat het. Hy het oudergewoonte gaan stap.
Sy familie het bekommerd geraak toe hy nie terugkeer nie.
Man met gevaarlike verlede
“Ons het hom sien uitstap, maar hy het nie na ons gekyk of met ons gepraat nie. Dís toe ons besef het iets is moontlik verkeerd,” sê Yolanda Burger, sy skoondogter.
Die families vermoed hy is moontlik saam met ’n jonger man met ’n gevaarlike verlede wat vroeër vanjaar gereeld saam met hom gesien is. Burger sê haar skoonpa is goedhartig en kan maklik beïnvloed word.
Sy vrees iemand sal dalk probeer om toegang tot sy pensioen te kry of dokumente in sy naam te vervals.

Foto ter illustrasie: iStock
Kobus het ’n donker baadjie, ’n wit-en-blou geruite hemp, roomkleurige broek en bruin skoene gedra toe hy laas gesien is.
Volgens Burger het die familie reeds hospitale en begrafnisondernemings dwarsoor die Vaaldriehoek genader. Enigiemand met inligting word versoek om die familie te whatsapp by 078 132 7261 of om die polisie op Vanderbijlpark te nader.
Geen wagtydperk
Die Vaaldriehoek-polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk om iemand as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kans op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aan gehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Vul ’n polisie 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
- As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n Polisie 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se verslag uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

