Central SA
Vrystaatse regering vra privaat sektor moet help werk skep─── REFILWE BEKANE 12:30 Fri, 28 Nov 2025
Die Vrystaatse provinsiale regering wil sy groot portefeulje onderbenutte staatseiendomme inspan om werkgeleenthede vir inwoners te skep en gehalte-diens te lewer.
Dit was die belangrikstebesprekingspunt op ’n beleggingsberaad oor staatseiendom Donderdag (27/11), waar die premier ’n strategie uiteengesit het om onbenutte staatseiendom van ’n finansiële las in produktiewe hulpbronne te omskep.
“Hierdie sewende administrasie is daartoe verbind om dinge om te keer,” het premier Maqueen Letsoha Mathae gesê.
Sy is trots op haar administrasie se spanwerk, wat toegespits is op maniere om Vrystaters se lewe ten goede te verander, het sy bygevoeg.
Mathae se onmiddellike oogmerk toe sy die leisels oorgeneem het, was om die provinsiale regering se bestaande huurooreenkomste te ondersoek, sê sy.
Haar kantoor het vasgestel baie jare lange huurkontrakte, waarvan sommige selfs dateer uit 2004, word bloot maandelikse hernu. Dit is dikwels ook die geval met vervalle eiendom wat deur staatsamptenare gebruik moet word. “Ek vind dit baie, baie onregverdig,” sê Mathae.
Nog ’n groot uitdaging is die provinsie se enorme skuld aan munisipaliteite, veral vir tariewe en belasting op onbenutte staatsgeboue.

Premier Maqueen Letsoha Mathae in gesprek met OFM-joernalis Zenande Mpame. Foto: Refilwe Bekane
Die doel van die beraad was om die privaat sektor sover te kry om saam te werk met die regering om onbenutte bates te laat herleef en te benut. So kan verseker word dat Vrystaters self by dié bates baat vind.
Die plan behels die opknapping van eiendomme sodat die regering inkomste daaruit kan verdien, het sy gesê. Die belangrikste is egter dat personeel van departementele kantore in hul eie geboue gehuisves moet kan word pleks daarvan om aan talle privaat verhuurders dwarsoor die provinsie huur te moet betaal.
Dié strategie, meen sy, kan meer werksgeleenthede vir inwoners skep en dienste van gehalte aan inwoners verseker deur administratiewe vermorsing te verminder.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

