Central SA
Polisie vra hulp om man van Kroonstad se familie op te spoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:13 Sun, 30 Nov 2025
Die Vrystaatse polisie doen ’n beroep op die publiek om te help nadat ’n man sowat twee maande gelede dood langs die spoorlyn naby die N1buite Kroonstad gevind is.
Vusi Bam (36) oorspronklik van Kroonstad se liggaam is op 12 September gekry. “Die polisie het sy identiteitsdokument by hom gevind. Alle pogings om sy familielede op te spoor was tot dusver onsuksesvol,” sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder.
Enigiemand wat moontlik kan help kan Keabecoe Sebate, ondersoekbeampte, by 083 665 3256 bel of Stop Misdaad by by 08600 10111. Anonieme wenke kan gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.

Vusi Bam. Foto verskaf
Geen wagtydperk
Die Vrystaatse-polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk om iemand as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kans op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aan gehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Vul ’n polisie 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
- As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n Polisie 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel sodat die vermiste persoon se verslag uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

