Central SA
Groot dele van Potchefstroom moet regmaak vir droë krane─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:43 Mon, 01 Dec 2025
Inwoners van talle Potchefstroomse woonbuurte sal na verwagting Woensdag (3/12) heeldag sonder watertoevoer moet klaarkom.
Die JB Marks-munisipaliteit raai mense aan om vooraf genoeg water op te gaar en die water deur die dag spaarsaam te gebruik, sê Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder. Die doel van die onderbreking is om ’n nuwe drukverligtingsklep te installeer in MC Rhoodestraat.
Die huidige, foutiewe klep het gelei tot wisselvallige waterdruk en uitdagings met watervoorsiening, voeg Tshite by.
Watertoevoer sal 07:00 onderbreek word en waarskynlik eers laataand hervat word. Die dele wat geraak word, is Dagbreek, Vyfhoek, Van der Hoffpark, Bailliepark en omliggende uitbreidings, Grimbeekpark en Tuscany Ridge.
Die munisipaliteit vra inwoners om verskoning vir die ongerief tydens die soveelste instandhoudingsprojek aan pompe in sy gebied.
Herhaalde wateronderbrekings het twyfel laat ontstaan oor die doeltreffendheid van dié herstelwerk. Dit het daartoe gelei dat ál meer stemme opklink vir die skeiding van JB Marks in sy samestellende dele: Ventersdorp en Tlokwe.
Frustrasie het al oorgekook in protesoptrede wanneer inwoners die strate invaar om hul woede en ontevredenheid te kenne te gee oor die manier waarop die ANC die munisipaliteit bestuur.
Intussen beplan JB Marks om, ook Woensdag, Ventersdorp en omstreke se krag af te skakel vir werk aan die hoofsubstasie en die inbedryfstelling van ’n nuwe kraglyn. Talle gebiede se krag sal van 06:00 tot 18:00 afgeskakel word, wat inwoners, ondernemings en landboubedrywighede sal raak.
Die gebiede wat sonder krag gaan sit, sluit in Ventersdorp se middedorp en woonbuurte, Tshing, Toevlug, Moosa Park, Boikhutso, Boikhutsong en Appeldraai. Sommige omliggende plaasgemeenskappe sal ook geraak word.
JB Marks sê die 12 uur lange onderbreking is noodsaaklik vir twee groot infrastruktuurprojekte. Die primêre taak behels die installering en inbedryfstelling van ’n nuwe 11 kV-brekerpaneel in Ventersdorp se hooftoevoersubstasie. Dit is ’n noodsaaklike komponent vir die doeltreffende bestuur en beskerming van die plaaslike netwerk.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM News/Kekeletso Mosebetsi cvs

