Central SA
Stigting vra: Moenie laat slaplê in stryd teen MIV/vigs─── 12:00 Mon, 01 Dec 2025
Maandag (1/12) is Wêreldvigsdag, ’n jaarlikse herdenking om die wêreld se aandag op die MIV/vigs-epidemie te vestig.
Vanjaar reël die Aids Healthcare Foundation (AHF) wêreldwyd geleenthede om te beklemtoon die stryd teen MIV/vigs is nog nie verby nie. Die organisasie, wat sy wêreldwye programme in 2002 in Suid-Afrika en Uganda begin het, spits hom toe op voorkoming, toetsing, toegang tot kondome, behandeling en deurlopende sorg.
“Vanjaar se herdenking val saam met ’n geskiedkundige mylpaal vir die stigting, naamlik om bedrywighede na 50 lande wêreldwyd uit te brei, ’n buitengewone prestasie sedert die organisasie sy wêreldwye programme in 2002 in Suid-Afrika en Uganda van stapel gestuur het,” sê die AHF in ’n verklaring.

Die organisasie se klem val steeds op sleutelterreine soos voorkoming, toetsing, toegang tot kondome, behandeling en volgehoue sorg. Foto: Freepik
Volgens die organisasie lewe ongeveer 40 miljoen mense wêreldwyd met die virus, en sowat 1,3 miljoen nuwe gevalle word elke jaar gediagnoseer. Diskriminasie verhinder mense dikwels om die nodige sorg te kry, en spesifieke bevolkings het probleme met toegang tot behandeling.
“Altesaam 50 lande en 2,7 miljoen lewens onder ons sorg, ’n merkwaardige prestasie wat bereik is danksy die toewyding van duisende AHF-personeellede, vrywilligers en raadslede, en deurdat kliënte en pasiënte elke dag hul sorg aan ons toevertrou,” sê Michael Weinstein, AHF-president.
Die organisasie beweer “farmaseutiese gierigheid” kniehalter steeds vordering in die wêreldwye reaksie op MIV/vigs. Daadwerklike vooruitgang vereis farmaseutiese maatskappye moet mense bo winste stel, want die belangrikheid van innovasie word verminder indien dit nie vir almal toeganklik is nie.
Die stigting sê Wêreldvigsdag dien as ’n noodsaaklike platform vir MIV/vigs-kampvegters om:
- die vordering te erken wat gemaak is;
- diegene te eer wat aan vigsverwante siektes gesterf het en diegene wat die stryd voortsit; en
- regerings wêreldwyd opnuut te vra vir die nodige hulpbronne en politieke wil om MIV/vigs te beëindig.
Op Wêreldvigsdag word almal daaraan herinner: Die stryd is nog lank nie verby nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs

