Central SA
Ma aangekeer ná baba onder boom gelos is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:20 Sun, 14 Dec 2025
’n Ma verskyn binnekort in die hof nadat sy na bewering haar pasgebore babaseuntjie naby Theunissen onder ’n boom langs die pad gelos het.
Die vrou (25) is Saterdag (13/12) in hegtenis geneem nadat sy deur lede van die Brandfort-polisie opgespoor is. “Die ma van die agtergelate twee dae oue baba is in hegtenis geneem en word aangekla van poging tot moord,” sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die inhegtenisneming volg nadat die baba Vrydag (12/12) omstreeks 15:00 naby ’n stapplek langs die R30 buite Theunissen gevind is.
Volgens Kareli het ’n man en sy neef in die omgewing gestap toe hulle deur ’n verbyganger genader is wat hulle ingelig het oor ’n baba wat onder ’n boom lê.
‘Swaar reën was op pad en die baba het in ernstige gevaar verkeer’
“Die twee mans het onmiddellik ondersoek ingestel en ’n babaseuntjie gevind wat net ’n paar dae oud gelyk het. Swaar reën was op pad en die baba het in ernstige gevaar verkeer.”
Volgens Kareli het die barmhartige samaritane vinnig en deernisvol opgetree. “Hulle het die baba vir veiligheid na hul huis geneem en onmiddellik die Theunissen-polisie en mediese nooddiens ingelig.”
Mediese noodpersoneel het vinnig gereageer en die babaseuntjie na ’n plaaslike hospitaal gebring, waar hy vir mediese waarneming en sorg opgeneem is. “Die baba is veilig en het die nodige mediese aandag ontvang,” sê Kareli.
In die ondersoek deur die Brandfort-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings is die verdagte geïdentifiseer en in hegtenis geneem.
Moeder opgespoor
“Die vinnige en toegewyde werk van die ondersoekbeamptes het verseker dat die moeder opgespoor is,” sê Kareli.
“Die polisie prys die twee mans en die informant wat vinnig gedink en menslik opgetree het om die baba se oorlewing te verseker.”
Die beskuldigde sal na binnekort in die Theunissen-landdroshof verskyn.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

