Central SA
Vrystaat en Noord-Kaap werk saam tydens interprovinsiale padblokkade─── 06:54 Thu, 01 Jan 2026
Die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer het vroeër vandeesweek ’n interprovinsiale padblokkade op die N8 gehou, op die grens tussen die Vrystaat en Noord-Kaap.
Die operasie is onder leiding van LUR Jabu Mbalula uitgevoer, en verskeie staatsdepartemente, wetstoepassingsagentskappe en ander rolspelers was betrokke. Altesaam 400 voertuie is voorgekeer en deursoek.

Foto: Facebook
Drie voertuie is gekonfiskeer en sewe is as onpadwaardig verklaar. Hierdie voertuie is nie toegelaat om verder te ry nie. Altesaam 68 strafsake is geopen.

Foto: Facebook
Rolspelers wat aan die operasie deelgeneem het, sluit onder andere in: die provinsiale verkeersdepartemente van die Vrystaat en Noord-Kaap, die nasionale verkeerspolisie se intervensie-eenheid, Vrystaatse noodmediese dienste, sowel as die polisie en militêre polisie van beide provinsies.

Foto: Facebook
“Hierdie gesamentlike operasie beklemtoon die regering se verbintenis tot die versterking van wetstoepassing en die verbetering van padveiligheid op die land se nasionale paaie,” sê Mbalula in ’n verklaring.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh 
