On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Moordverdagte agter tralies ná hy hulp by polisie soek

───   09:49 Fri, 02 Jan 2026

Moordverdagte agter tralies ná hy hulp by polisie soek | News Article
’n Man wat glo ’n ander man doodgesteek het, se blou Mini Cooper is daarna uit wraak aan die brand gesteek. Foto: Facebook

’n Lethabong-man, wat glo ’n ander man met ’n skerp voorwerp doodgesteek het, is in hegtenis geneem nadat hy self na die polisie gegaan het toe ’n woedende skare hom agternagesit en sy voertuig aan die brand gesteek het.

Volgens lt.kol. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het die voorval omstreeks 03:25 op Nuwejaarsdag afgespeel toe ’n groep mense vuurwerke binne ’n taverne in Lethabong afgevuur het. “Van die ander klante was daarteen gekant en het die groep gekonfronteer. 

“Dit het tot ’n bakleiery gelei wat van binne die taverne na buite verskuif het. Tydens die oproer is ’n man (38) met ’n skerp voorwerp gesteek en op die toneel dood verklaar,” sê Tselanyane.

Foto: Facebook

’n Skare, glo bestaande uit mense wat saam met die oorledene was, het die verdagte probeer aanval. Hy het egter te voet gevlug. 

Kort daarna het die groep sy geparkeerde voertuig geïdentifiseer en dit aan die brand gesteek.

“Die verdagte het uitgevind sy motor is afgebrand en het uit vrees na die naaste polisiekantoor gegaan om hulp te soek,” sê Tselanyane. By die polisiekantoor is hy as die moordverdagte geïdentifiseer en in hegtenis geneem. 

Paniek ná voorval

Die man (45) sal na verwagting Maandag in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane verskyn op ’n aanklag van moord. ’n Saak van kwaadwillige saakbeskadiging is ook geopen in verband met die brandstigting. 

Die situasie in Lethabong is onder beheer gebring en klante het later die nuwe jaar verder onder ’n wit tent buite die taverne gevier.

Intussen het besorgde ouers by die Hartbeesfontein-kliniek opgedaag in die hoop om hul kinders op te spoor nadat hulle van die voorval gehoor het. Op daardie stadium was ’n regeringslykswa reeds by die kliniek om die oorledene se liggaam op te laai. 

Vuurwerke eis lewe

Die teenwoordigheid van die lykswa en polisievoertuie het talle toeskouers gelok. Genl.maj. Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale kommissaris van Noordwes, het die voorval ten sterkste veroordeel.

“Dit is teleurstellend dat sommige mense steeds vuurwerke onverantwoordelik gebruik, ondanks talle waarskuwings. Die gebruik van vuurwerke binne ’n taverne het nou gelei tot die verlies van ’n lewe,” sê hy.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie van die oorledene. Geen steen sal onaangeroer gelaat word om te verseker dat geregtigheid geskied nie.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.