Central SA
Vliegtuig val naby Bloemfontein: ‘Ek hoor toe dit val’─── 08:45 Sat, 03 Jan 2026
Die polisie werk nou saam met die Burgerlugvaartowerheid om die oorsaak van ’n ongeluk te bepaal waarin die vlieënier van ’n ligte vliegtuig Vrydag (2/1) dood is.
Die vliegtuig het op een van die Ferreira-kleinhoewes buite Bloemfontein neergestort. Die identiteit van die vlieënier (45) is nog nie bekend gemaak nie.
Brian Emmenis, lugskou-kommentator, het aan OFM Nuus gesê die vlieënier was ’n vertoningsvlieënier by lugskoue. “Dit is tragies. Hy was van Kaapstad na Johannesburg in ’n Piper Tri Pacer onderweg.”
Ntate Jotele sê op Facebook hy het gehoor toe die vliegtuig val. “Dit was hartverskeurend. Dit is langs my werkplek by die BP-vulstasie. Dit het ’n harde geluid gemaak.”

Die ongelukstoneel buite Bloemfontein. Foto: VR Med/Facebook
Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Vrydag omstreeks 10:20 ontbied. “Met hul aankoms was nooddienste reeds op die toneel besig om die man te behandel wat in die wrak vasgekeer was. Hy is op die toneel dood verklaar.”
Volgens die webtuiste Aviation Safety Network wat rekord hou van vliegtuigongelukke was die ligte vliegtuig ’n Piper PA-20 Pacer. Dit was aanvanklik gebou as ’n Piper PA-22 Tri Pacer en is later omgeskakel van ’n driewiel-landingstel na ’n stertwiel-PA-20 Pacer.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

