On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Anny
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde onderwyser van Hoërskool Fochville sterf

───   10:09 Sat, 03 Jan 2026

Geliefde onderwyser van Hoërskool Fochville sterf | News Article
Ryno Hefer. Foto: Hoërskool Fochville/Facebook

Die gemeenskap het hul skok en hartseer uitgespreek nadat Ryno Hefer, ’n onderwyser en rugbyafrigter van die Hoërskool Fochville, Vrydag (2/1) in ’n botsing reg van voor dood is.

Sy vrou, Megan, is in die hospitaal in Ermelo opgeneem. Hul dogter, Hannah-Grace (3), is egter per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

Megan en Hannah-Grace is ernstig beseer. Foto: Megan Hefer-Collingwood/Facebook

“Dis met diep hartseer en ’n swaar gemoed dat ons die nuus moet deel van die afsterwe van mnr. Ryno Hefer, wat vanmiddag tragies oorlede is ná ’n noodlottige kop-aan-kop-botsing waarin hy en sy gesin betrokke was,” lui die Hoërskool Fochville se Facebook-inskrywing.

‘Pilaar van ons skoolgemeenskap’

“Mnr. Hefer was vir die afgelope 15 jaar ’n pilaar van ons skoolgemeenskap as rugbyorganiseerder. Met sy toewyding, passie en opregte omgee het hy nie net die sport nie, maar ook mense se lewens aangeraak. Hy het diep spore in ons harte getrap en sy nalatenskap sal lank nog voortleef. Ons sal hom opreg en innig mis.

“Mag die Here Sy troos en vrede oor die familie uitstort in hierdie ondenkbaar moeilike tyd en mag hulle die krag ervaar van ’n gemeenskap wat saam met hulle treur, bid en hoop.”

Megan en Ryno Hefer op hul troudag in 2021. Foto: Megan Hefer-Collingwood/Facebook

Klim en Klouter Kleuterskool, waar Hannah-Grace ’n leerling is, het ook met die gesin gesimpatiseer. “Ons gebede is by mamma Megan, wat tans in die hospitaal in Ermelo behandel word, asook by ons geliefde maatjie; Hannah-Grace; wat per helikopter na Milpark-hospitaal geneem is vir noodbehandeling. 

“Mag ons Hemelse Vader die familie dra deur hierdie bitter hartseertyd. Mag God se genade vir hulle genoeg wees en mag Hy elke oomblik vir hulle ’n God van naby wees.”

‘Legende van sy eie soort’

Een van sy vriende, Chris van Jaarsveld, het Hefer as ’n legende van sy eie soort op Facebook beskryf. “ ’n Vriend wat altyd langs jou sal staan in goeie en slegte tye. ’n Vriend wat altyd tot die einde sal vasbyt langs die braaivuur. 

“ ’n Uitstekende onderwyser en ’n uitstekende afrigter. ’n Man van goud, ’n Pa wat omgee en lief is vir sy dogtertjie en sy vrou Megan. 

“Rus in vrede my ou maat. Dankie vir wie jy was in my lewe, dankie dat ek altyd op jou kon staatmaak en dit wat jy my ook van die lewe geleer het.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.