Central SA
Aanvalle deur honde skok in Noordwes─── 14:03 Mon, 05 Jan 2026
’n Gesin van Potchefstroom maak gereed vir ’n moeisame en duur herstelpad vir hul jongste seun, wat in die feestyd ernstig beseer is toe bure se hond hom op ’n kleinhoewe aangeval het waar sy gesin gaan kuier het.
Daniël Heystek (6) is beseer toe ’n hond hom op Welwillendheidsdag (26/12) aangeval het terwyl hy trampolien gespring het in een van minstens twee hondeaanvalle op mense gedurende die feestyd in Noordwes. Sy ouer broer, Rico (8), het hom te hulp gesnel en die hond met alle mag van sy kleinboet probeer afweer.
Rico het ook om hulp geroep. Daniël is met erge kopbeserings hospitaal toe geneem waar hy gestabiliseer en vir chirurgie voorberei is.

Daniël Heystek (6) moes spoedig geopereer word nadat ’n hond hom aangeval het. Foto verskaf
Die beskadigde weefsel is in ’n operasie versigtig verwyder, en die oorblywende kopvel is sover moontlik versigtig herposisioneer om sy skedel te beskerm. Vel van sy bobeen is gebruik om die wonde te help bedek en beskerm.
Hierdie prosedure het waarskynlik sy lewe gered. Daniël se herstelpad gaan egter lank wees met nog verdere operasies en voortdurende mediese sorg wat nodig sal wees, luidens ’n webblad wat gestig is waar mense sy vordering kan volg.
Hulp word veral van die Potchefstroom-gemeenskap gevra om hande vat om die gesin te ondersteun op Daniël se lang en duur pad na herstel. ’n Veldtog, Standing Together for Daniël, is op BackaBuddy begin.
Amerikaanse veghondaanval
Teen Maandagmiddag (05/01) is byna R42 000 van die teiken van R640 000 reeds ingesamel.
In nog ’n voorval is ’n Pakistanse burger Vrydagaand (02/01) in Vryburg oorlede nadat hy in die vroeë oggendure op Nuwejaarsdag deur twee Amerikaanse veghonde aangeval is. Die omstandighede van die man se dood word ondersoek, sê lt.kol. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder.
Die man het glo verblyf gehuur by die huis waar die twee honde hom aangeval het.

Daniël Heystek (6) is beseer toe ’n hond hom op Welwillendheidsdag aangeval het terwyl hy trampolien gespring het. Foto verskaf
Daar is reeds ’n saak dienende voor die hof wat verband hou met ’n voorval waarin die honde ook voorheen iemand by dié huis aangeval het, voeg Tselanyane by. Dié saak word weer in Februarie in die plaaslike landdroshof aangehoor.
“Die honde is Saterdag (03/01) van kant gemaak ná gesprekvoering met die eienaar. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ’n geregtelike doodsondersoek is begin.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs/mvh

