On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Chubby Chick-moord: Joubert steeds nie in hof

───   REFILWE BEKANE 16:30 Mon, 05 Jan 2026

Chubby Chick-moord: Joubert steeds nie in hof | News Article
Joubert is gewond toe veiligheidswagte op hom geskiet het. Foto: X

Die man wat teregstaan op twee aanklagte van moord ná die skietdood van twee direkteure van die Chubby Chick-maatskappy in Potchefstroom, sal nou eers op 30 Januarie in die plaaslike landdroshof verskyn.

Robert Joubert (73) kon Maandag (5/1) weer nie in die hof verskyn nie, aangesien hy steeds onder polisiebewaking in die hospitaal is. Dít bevestig kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie. 

Die hofverrigtinge is al verskeie kere uitgestel terwyl gewag word dat Joubert voldoende herstel om persoonlik in die hof te verskyn. Die staat het gehoop hy sou teen Maandag uit die provinsiale hospitaal ontslaan wees, maar hy ontvang steeds behandeling vir beserings wat tydens die voorval opgedoen is. 

Die skietvoorval het op 10 November plaasgevind ná wat glo ’n vergadering oor ’n eiendomstransaksie was. Die twee oorledenes, broers Johnathan Fourie (52) en Deon Fourie (55), was direkteure van Chubby Chick en het daardie dag met Joubert vergader.

Volgens die maatskappy het Joubert die perseel aanvanklik ná die vergadering verlaat, maar sowat 30 minute later teruggekeer. Hy het die raadsaal binnegegaan en glo op Deon geskiet en hom ernstig gewond. 

Deon het om hulp geroep, waarna Johnathan na die raadsaal gehardloop het. Daar is hy noodlottig gewond en op die toneel dood. 

Johnathan en Deon Fourie. Foto verskaf

Joubert is ook tydens die voorval gewond toe veiligheidswagte op hom geskiet het. Hy is sedertdien onder polisiebewaking in die hospitaal.

Deon is na ’n hospitaal in Gauteng oorgeplaas, waar hy in die intensiewesorgeenheid uitgebreide behandeling ondergaan het. Dit het verskeie prosedures en dialise ingesluit terwyl sy toestand fyn dopgehou is. 

Hy is egter op 14 Desember aan komplikasies weens sy skietwonde oorlede, wat beteken dat Joubert nou teregstaan op twee aanklagte van moord.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Refilwe Bekane mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.