On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse polisie vra veilige bestuursgedrag

───   09:45 Thu, 08 Jan 2026

Noord-Kaapse polisie vra veilige bestuursgedrag | News Article
Noord-Kaapse polisiebeamptes gaan voertuie na om veiligheid in die feestyd te bevorder. Foto: SAPD

Namate die vakansie tot ’n einde kom, vra die polisie in die Noord-Kaap motoriste om verantwoordelik en veilig te bestuur.

Die verkeersdruk gaan waarskynlik weer aansienlik toeneem op hoofroetes soos wat gesinne en vakansiegangers terugkeer huis toe.  Padgebruikers word aangeraai om hul reise goed te beplan, sê lt.kol. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder.

Motoriste moet genoeg tyd toelaat om hul bestemming te bereik en verseker hul voertuie is padwaardig voordat hulle die langpad aanpak.

Die polisie herinner bestuurders om die verkeersreëls, insluitend die snelheidsperke, te gehoorsaam en nie roekeloos of nalatig te bestuur nie, soos om ander voertuie op gevaarlike dele van die pad en draaie verby te probeer steek.

Die Noord-Kaapse polisie belowe groter sigbaarheid op die provinsie se paaie namate die vakansie ten einde loop. Foto: SAPD

“Moegheid bly ’n groot bydraende faktor tot padongelukke. Bestuurders word daarom aangemoedig om gereeld te rus en indien moontlik, beurte te maak om te bestuur.”

Litabe maan dronkbestuur of bestuur onder die invloed van dwelms sal nie geduld word nie. Hy beloof ’n groter teenwoordigheid van wetstoepassers op die paaie deur volgehoue sigbare operasies, insluitend padblokkades en voertuiginspeksies om nakoming van die wet en die veiligheid op paaie te verseker.

Veiligheidsgordels

“Voetgangers word ook versoek om versigtig te wees wanneer hulle paaie oorsteek, veral in gebiede waar druk verkeer is, en om sigbare klere te dra wanneer hulle snags rondbeweeg.”

Passasiers word aangemoedig om te alle tye veiligheidsgordels te dra en enige voorvalle waar bestuurders onveilig optree, aan te meld. “Verantwoordelike gedrag op die paaie kan lewens red.”


Intussen het die Noord-Kaapse polisie ook die publiek in die lig van onlangse verdrinkingsvoorvalle en uiters warm weerstoestande in die provinsie, gevra om versigtig te wees by water.

Inwoners word daaraan herinner om moontlike gevare in ag te neem voordat hulle riviere, damme of spruite aandurf om moontlike tragedies te voorkom, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

Om waterveiligheid te bevorder, moet die volgende voorsorgmaatreëls nagekom word:

  • Kinders mag nooit sonder toesig naby swembaddens, damme of riviere gelaat word nie.
  • Vermy dit om alleen te swem.
  • Swem net in aangewese areas.
  • Private swembaddens moet behoorlik beveilig word.
  • Individue wat nie kan swem nie, moenie in die water ingaan nie.
  • Mense moenie swem onder die invloed van drank.
  • Moenie probeer om deur vloedwater te beweeg nie.
  • Vermy dit om te kampeer naby spruite of laagliggende gebiede wat oorstroom kan word.
  • Wees waaksaam vir stygende watervlakke.
  • Hou die weer dop, veral wanneer donderstorms voorspel word of onlangs plaasgevind het.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.