Central SA
Gesoek: Colesberger wat R65 miljoen in Lotto wen─── 11:56 Thu, 08 Jan 2026
’n Gelukkige inwoner van Colesberg in die Noord-Kaap het ’n kitsmiljoenêr geword deur die Lotto-trekking op Oujaarsdag te wen – maar het nog nie na vore gekom om sy of haar wenprys van meer as R65 miljoen op te eis nie.
Ithuba, operateur van die Nasionale Lotery, doen nou ’n beroep op inwoners van dié omgewing, wat hul kaartjie op Colesberg gekoop het, om dit na te gaan. Die wenkaartjie is met ’n Quick Pick-keuse gekoop vir slegs R20.
Die wengetalle in trekking 2607 was 04, 05, 10, 16, 22, 45, en die bonusgetal 25.

Charmaine Mabuza, uitvoerende hoof van Ithuba, vra die wenner om so spoedig moontlik na vore te kom. Foto: Facebook
Charmaine Mabuza, uitvoerende hoof van Ithuba, het die wenner gelukgewens. “Om meer as R65 miljoen in die laaste trekking van die jaar te wen, is ’n merkwaardige manier om die nuwe jaar op ’n hoë noot te begin.
“Ons wens die wenner vreugde, sukses en eindelose moontlikhede toe in hierdie nuwe hoofstuk.” Sy vra die wenner om so spoedig moontlik na vore te kom.
Volgens Ithuba het die wenner 365 dae om die prys te eis. Indien dit nie geëis word nie, vloei die bedrag gedeeltelik na die National Lottery Distribution Trust Fund (NLDTF), wat gemeenskapsprojekte in Suid-Afrika ondersteun.

Suid-Afrikaners se kans is 58 keer groter om deur weerlig getref te word as om die Lotto-boerpot te wen. Foto: Unsplash/Johannes Plenio
Gauteng, waar die meeste kaartjies verkoop word, is die provinsie met die grootste getal wenners. In Julie verlede jaar het twee spelers saam meer as R25 miljoen gewen met kaartjies wat in Pretoria gekoop is. ’n Man van Potchefstroom het in Junie bykans R9 miljoen in die Lotto-boerpot gewen.
’n Gewone Suid-Afrikaner se kans om die Lotto-boerpot te wen is sowat 1 uit 20 miljoen. Volgens die Nasionale Lotery se amptelike kansberekeninge is die volgende waarskynlikhede van toepassing:
Kans om te wen
- Boerpot (6 regte getalle): 1 uit 20,4 miljoen
- 5 getalle + bonusbal: 1 uit 3,4 miljoen
- 5 getalle: 1 uit 75 400
- 4 getalle + bonusbal: 1 uit 30 161
- 4 getalle: 1 uit 1 371
- 3 getalle + bonusbal: 1 uit 1 028
- 3 getalle: 1 uit 72
- 2 getalle + bonusbal: 1 uit 96
Deelnemers aan die Daily Lotto staan ’n beter kans (byvoorbeeld 1 uit 376 000 vir die hoofprys), maar dié pryse is gewoonlik kleiner.
‘Groter kans om deur weerlig getref te word’
Om hierdie syfers in perspektief te plaas: jou kans om in Suid-Afrika deur weerlig getref te word is 1 uit 350 000, volgens statistieke van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, berig Business Tech.
Suid-Afrikaners het dus 58 keer ’n groter kans om deur weerlig getref te word as om die Lotto-boerpot te wen – en 121 keer ’n groter kans as dit kom by die PowerBall.
Hoewel die standaard-Lotto ’n hoër wenkans as PowerBall bied, bly dit buitengewoon onwaarskynlik om die regte nommers te kies. Jy is sowat 20 000 keer meer geneig om met ’n ekstra toon gebore te word as om die Lotto-boerpot te wen.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

