On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

IEB: Hoë standaarde bly ondanks effense daling in slaagsyfer

───   11:00 Mon, 12 Jan 2026

IEB: Hoë standaarde bly ondanks effense daling in slaagsyfer | News Article
Die sluitingsdatum vir die indiening van aansoeke vir hermerking is Vrydag 30 Januarie. Hersiene uitslae sal op 4 Maart beskikbaar wees. Foto ter illustrasie: Freepik

Altesaam 98,3% van die kandidate wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeksamen afgelê het, het geslaag.

“Wat belangrik is, is dat die prestasievlakke konstant hoog bly. Standaarde moet gehandhaaf word en toegang tot graadstudies sterk bly,” sê Confidence Dikgole, uitvoerende hoof van die IEB. 

Toegang tot verdere studie

Alle kandidate wat die onafhanklike eindeksamen aan die einde van 2024 suksesvol voltooi het, kwalifiseer vir naskoolse studie op een van drie vlakke:

  • 89,12% kry toegang tot graadstudie (vergeleke met 89,37% in 2023);
  • 7,83% kwalifiseer vir diplomastudie (vergeleke met 7,56% in 2023);
  • 1,34% kom in aanmerking vir hoërsertifikaatstudie (vergeleke met 1,53% in 2023); en
  • 0,02% het ’n geëndosseerde Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) behaal.

Die uitvoerende hoof van die onafhanklike eksamenraad, Confidence Dikgole. Foto verskaf

Integriteit en goedkeuring

Die Raad vir Onderwysgehalte, Umalusi, het bevestig dat die eksamens ingevolge die toepaslike regulasies afgelê is. Geen sistemiese onreëlmatighede is aangemeld wat die integriteit of geloofwaardigheid van die eksamensessie in die gedrang sou kon bring nie. 

Individuele sukses

Die IEB se NSS-eksamens is in Oktober en November 2024 deur 16 063 voltydse en 1 350 deeltydse kandidate (altesaam 17 413) afgelê by 277 eksamenlokale, versprei oor 263 eksamensentrums landwyd.

Die meeste kandidate was in Gauteng, waar die eksamens aan 114 skole geskryf is. In die Noord-Kaap was slegs drie skole betrokke.

Wat individuele uitblinkers betref, is 161 leerlinge op die lys vir buitengewone prestasie erken nadat hulle onder die top 5% van alle kandidate in ses vakke geëindig het. Hoewel die algehele en baccalaureusslaagsyfers effens afgeneem het in vergelyking met 2023, het die aantal kandidate toegeneem.

Alle kandidate wat die 2025- onafhanklike eksamens suksesvol voltooi het, kwalifiseer vir verdere studie. Foto ter illustrasie: Freepik

“Namate die IEB aanhou groei – nuwe skole verwelkom, geografies uitbrei en ’n groter en meer uiteenlopende groep eksamineer – word klein skommelings in gesamentlike slaagsyfers statisties verwag. Dít word internasionaal waargeneem in stabiele assesseringstelsels,” sê Dikgole.

Volgende stappe

“Aan elke leerder – of jy nou jou doelwit bereik het of nie – jou pad vorentoe bly oop. Suid-Afrika se onderwysstelsel bied verskeie roetes na sukses, en volharding bly die belangrikste kwalifikasie van almal,” sê Dikgole.

Die sluitingsdatum vir die indiening van aansoeke vir hermerking is Vrydag 30 Januarie. Hersiene uitslae sal op 4 Maart beskikbaar wees.

Intussen sal minister Siviwe Gwarube van basiese onderwys op Maandag 12 Januarie die uitslae van die nasionale NSS-eksamen aankondig. Individuele uitslae word Dinsdagoggend (13/1) om 06:00 beskikbaar gestel.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427

OFM Nuus mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.