Central SA
Waterfront stel publiek gerus ná aankeer van spuitverdagte─── 15:34 Mon, 12 Jan 2026
Die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein gee kliënte die versekering die welstand van inkopiegangers, veral kinders, bly die sentrum se hoogste prioriteit.
Dit kom ná ’n voorval in die sentrum waarin ’n kind met ’n nat stof gespuit is. ’n Buitelander verskyn weer Woensdag (14/1) in die hof ná voorvalle waarin jong meisies in groot Bloemfonteinse winkelsentrums agtervolg en met ’n onwelriekende stof bespuit is.
Die man (33) is in hegtenis geneem deur die eenheid vir seksuele en elektroniese misdaad nadat materiaal waarin die seksuele misbruik van kinders uitgebeeld word, glo in sy besit gevind is.

Die Loch Logan Waterfront se sekerheidspersoneel het gehelp om die verdagte spoedig aan te keer. Foto: Broll Auction and Sales
Meryl Henning, woordvoerder van die Loch Logan Waterfront, bevestig ’n klag is ontvang oor ’n spuitvoorval by die sentrum. Die sentrumbestuur het dadelik sy veiligheidsprotokol geaktiveer.
“Alle beskikbare kringtelevisie-beeldmateriaal an kring-TV’s is sonder verwyl nagegaan, wat ons in staat gestel het om die bron van die voorval te identifiseer en dit met die betrokke verdagte te verbind. ’n Soekkennisgewing is onmiddellik aan alle veiligheidspersoneel op die terrein gestuur.
“Binne 24 uur is die verdagte opgespoor en in aangekeer deur ons bedryfsbestuurder en lede van ons sekerheidspan. Hy is is onmiddellik aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek en verwerking.”
‘Spoedige aanmelding speel ’n belangrike rol om ’n veilige omgewing vir almal te verseker’
Henning stel die publiek gerus dat hul veiligheid die sentrum se hoogste voorkeur is. “Die winkelsentrum beskik oor omvattende toesigstelsels, opgeleide veiligheidspersoneel op die terrein, en gevestigde prosedures om vinnig te reageer op enige aangemelde klagte.”
Die sentrum werk voortdurend nou saam met die polisie en ander instellings en moedig lede van die publiek aan om enige verdagte optrede onmiddellik by die sentrumsekerheid aan te meld. “Spoedige aanmelding speel ’n belangrike rol om ’n veilige omgewing vir almal te verseker,” sê Henning.
Lt. kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê verskeie klagte is deur ouers ingedien nadat ’n man in winkelsentrums agter jong meisies aangeloop, hulle met ’n onwelriekende stof bespuit en dan wegbeweeg het. Hy het blykbaar ook sy slagoffers in die geheim afgeneem.
Groot inspuiting gevind
Na wat verneem word, was sy oogmerk moontlik om die meisies, tussen die ouderdom van 10 en 12, siek te laat voel sodat hulle die kleedkamers sou besoek, waar op hulle toegeslaan kon word. Die polisie het met sentrum-sekerheidspersoneel saamgewerk om die verdagte op te spoor, sê Covane.
Kapt. Bez Bezuidenhout van die eenheid vir seksuele en elektroniese misdaad het hom in hegtenis geneem en toe hy deursoek is, is ’n groot inspuiting, met ’n naald, wat normaalweg vir diere gebruik word, glo by hom gevind.
Ouers wat vermoed hul kinders is moontlik deur iemand bespuit met ’n stof wat sleg ruik, word gevra om verklarings by die polisie af te lê. Bezuidenhout kan ook gebel word by 071 331 8822.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

