On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Saak oor Jagersfontein-ramp hervat, straks na hoër hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Wed, 14 Jan 2026

Saak oor Jagersfontein-ramp hervat, straks na hoër hof | News Article
Die vyf beskuldigdes met ’n vorige verskyning. Foto: Charne van der Merwe

Die saak teen vyf mans en verskeie maatskappye wat verband hou met die Jagersfontein-slikdamramp van September 2022, word Woensdag (14/1) in die plaaslike landdroshof hervat.

Die saak sal na verwagting na die hooggeregshof in Bloemfontein oorgeplaas word vir ’n voorlopige verhoor. Die beskuldigdes het die afgelope jaar meermale in die landdroshof voorgekom waar die saak voorheen uitgestel is om die verdediging tyd te gun om die inhoud van die dossier te bestudeer.

Die beskuldigdes is Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45), asook Jagersfontein Developments en verskeie verwante maatskappye.

Hulle staan tereg op altesaam 13 aanklagte, insluitend drie van moord, asook van omgewingsbesoedeling en oortredings van damveiligheidsregulasies kragtens die Strafregwysigingswet.

Die toneel van die slikramp in September 2022. Foto verskaf

Die wal van die slikdam het in September 2022 gebreek, wat wydverspreide verwoesting in die Charlesville- en Itumeleng-nedersettings veroorsaak het. Ongeveer 186 inwoners is dakloos gelaat en omliggende landbougrond ernstig beskadig. Volgens die Bench-Marks-stigting het een boer na raming 90% van sy skape verloor.

Benewens die moordklagte hou die ander aanklagte verband met:
 • beduidende omgewingsbesoedeling;
 • die versuim om aan watergebruiklisensievoorwaardes te voldoen;
 • die verskaffing van valse of onvolledige inligting;
 • die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie (DWS) om hul pligte uit te voer;
 • die versuim om DWS-riglyne na te kom;
 • die versuim om ’n dam met veiligheidsrisiko’s te registreer;
 • ongemagtigde veranderinge aan ’n dam met veiligheidsrisiko’s;
 • die versuim om ’n professionele span vir damontwerp aan te stel;
 • die versuim om aan kategorie III-dammonitering en -verslagdoening te voldoen;
 • die versuim om aan kategorie III-damveiligheidsvereistes te voldoen;
 • die oortreding van artikel 9 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, Wet 85 van 1993; en
 • kwaadwillige saakbeskadiging (121 aanklagte).

Die beskuldigdes word daarvan aangekla dat hulle die dood van Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu veroorsaak het. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie.

Die staat beweer die damwal het meegegee weens die oorskryding van watergebruikslisensieperke, die versuim om DWS-riglyne na te kom en die indiening van stabiliteitsverslae wat benede peil was.

Massas slik het in September 2022 deur Jagersfontein gespoel. Foto verskaf

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het voorheen gesê die tragedie kon vermy gewees het. “Mense is lank gelede gewaarsku oor die risiko’s, maar daardie waarskuwings is geïgnoreer.

“Die Jagersfontein-slikdamramp het enorme skade en lewensverlies veroorsaak. Diegene wat verantwoordelik is, moet aanspreeklik gehou word.”

Die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing het ’n omvattende ondersoek gedoen, waarna die NVG besluit het om te vervolg. Die vervolging word gelei deur adv. Johan Roothman.

Adv. Barry Roux tree op namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development, Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, en adv. Allen Simpson verskyn vir Viljoen. Adv. Mannie Witz verteenwoordig SRK Consulting (Suid-Afrika).

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.