Central SA
Vrystaat: Dinosourussentrum bereik R1 miljoen─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:53 Wed, 14 Jan 2026
Een van die Vrystaat se top-toeristeaantreklikhede het uitsonderlike inkomsteprestasie en sterk besoekersbelangstelling aangeteken sedert die opening van sy deure byna ses maande gelede.
Kgodumodumo-dinosourus-interpretasiesentrum het amptelik op 22 Junie geopen en gratis toegang aan besoekers gebied tot 30 September. Byna 9 000 besoekers het in die eerste twee weke daarheen gestroom.
Die Sanparke-sentrum in die Nasionale Golden Gate Hoogland-park het die R1 miljoen-kerf in inkomste sedert 1 Oktober oorskry, sê JP Louw, Sanparke-woordvoerder.

Die sentrum is ontwerp om saam te smelt met die natuurlike omgewing. Foto: Danie Theron
Sedert die opening het die sentrum meer as 80 000 besoekers verwelkom, van wie die meeste binnelandse reisigers was, hoofsaaklik van die Vrystaat, Gauteng en KwaZulu-Natal.
“Die toeristelokpleister het ook bygedra tot die plaaslike ekonomie deur verhoogde besetting in nabygeleë verblyfplekke,” sê Louw.
“’n Plaaslike entrepreneur, wat by die sentrum werksaam is en 20 gemeenskapslede in diens het, het ’n beduidende toename in verkope beleef, terwyl vier interpretasiebeamptes wat daar werk, uit die plaaslike gemeenskap kom.”

Die sentrum op Sondag 22 Junie bekendgestel. Foto: Danie Theron
Die sentrum van R120 miljoen is op Sondag 22 Junie deur Patricia de Lille, minister van toerisme, sowel as LUR Ketso Makume, die premier MaQueen Letsoha-Mathae en ander belanghebbendes bekendgestel.
Die sentrum is daagliks oop van 08:00 tot 16:00, en begeleide toere is beskikbaar vir besoekers wat insig in die uitstallings en die streek se paleontologiese geskiedenis verlang.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427

