Central SA
Gebore uit trane bemagtig Bloem-vaardigheidsentrum leergestremdes─── 07:00 Thu, 15 Jan 2026
“Ons hoop om binnekort nuwe suksesstories neer te skryf. Ek glo die deure van werkswinkels en klein ondernemings gaan oopswaai vir talle jong mense met leergestremdhede.”
Petronella Swarts, stigter van die Amogelang-kollege in Bloemfontein, dra dié hoop in haar hart. Sy het die vaardigheidsentrum in 2017 begin ter nagedagtenis aan haar aangenome suster, ’n oudleerling aan die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein.
“Pamela was altyd baie trots daarop om ’n leerder van dié skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes genoem te word. Dit was vir haar ’n veilige hawe waar sy haar volle potensiaal kon ontwikkel,” sê Swarts.
Vele frustrasies en teleurstellings het op Pamela gewag nadat sy haar skoolopleiding voltooi het. Keer op keer het sy haar tydens ’n werksonderhoud in ’n doodloopstraat bevind.

Petronella Swarts het die skool begin ná die tragedie toe haar suster, wat ook leergestremd was, haar eie lewe geneem het. Foto verskaf
“Sy het my vertel alles het goed gegaan totdat die onderhoudvoerder haar CV onder oë gekry het. Dan het die hele kaartehuis inmekaargetuimel.” Al dié wanhoop en het daartoe gelei dat Pamela, op die ouderdom van 26, haar eie lewe geneem het.
Swarts het besluit om die hartseer oor haar suster se dood te omskep in hoopvolle geleenthede vir leergestremde jong mense tussen 16 en 26.
In 2017 laat sy haar loopbaan as sakevrou agter om die kollege te begin. Kort voor lank kry 60 studente, met uiteenlopende leergestremdhede, die geleentheid om hulle te bekwaam in vaardigheidsrigtings.

Afgesien van groot uitdagings wat die leergestremdes te bowe moet kom, werk die studente met groot ywer aan hul opleidingsprojekte. Foto: Facebook/Amogelang College for kids with special needs
Dit het gewissel van rekenaargeletterdheid, naaldwerk en kookkuns tot gasvryheidsdienste, sport en skoonheidskuns. “Ek wou aan hulle die geleenthede bied wat Pamela nie beskore was nie.”
Amogelang het ongelukkig ook deurgeloop onder die vernietigende uitwerking van die Covid-19-pandemie. “Finansieel kon ons net nie meer die mas opkom nie, en in 2023 moes ons die deure sluit van dié plek, wat vir so baie studente hoop en uitkoms gebring het.”
Swarts, bekend as iemand wat nie tou opgooi nie, is sedert die sluiting van die kollege onophoudelik gekontak deur ouers van vorige studente, asook skoolverlaters met gestremdhede, wat desperaat gepleit het vir vaardigheidsopleiding.
“Wanneer hierdie versoeke my ore bereik het, het ek altyd gedink aan die suksesstories van ons studente wat intussen hul eie werkswinkels geopen het; ook aan die talle wat suksesvol aansoek gedoen het vir werk.”
Dié vrou met die omgeehart het skouer aan die wiel gesit, en Maandag (19/1) heropen die sentrum, dié keer in Bayswater, Bloemfontein.
“Ek is geseën met ’n span onderwysers wat tans nie oor poste beskik nie, asook afgetrede onderwysers wat hul hulp aanbied. Omdat ons ook nie oor ons eie werkswinkels beskik nie, gebruik ek die aanbod van eienaars wat hul plekke vir ons beskikbaar stel vir opleiding.”

Saterdag word ’n opedag in die Clive Solomon-stadion in Heidedal gehou. Swarts nooi alle belangstellende ouers en leerders uit na dié geleentheid.
Hoewel die sentrum nog nie voluit as ’n kollege funksioneer nie, is dit wel geregistreer as die Amogelang-kollege. Deel van haar toekomsvisie is om dit geakkrediteer te kry as ’n volwaardige kollege. Tot dan sal dit bekend staan as die Saint Pam Skills Development Centre for Special Needs Kids, met verwysing na Pamela, haar suster.
Haar droom? “Binne vyf jaar sien ek hierdie sentrum as ’n vooruitstrewende kollege waar minstens 200 gelukkige studente besig is om hulle te bekwaam as vaardige vakmanne en -vroue, wat hul plek trots en volwaardig in die samelewing kan inneem.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

