Central SA
Oos-Vrystater Kate Rok sing die nuwe jaar in─── SUSAN MARÉ 14:45 Wed, 14 Jan 2026
Die sangeres Kate Rok van Clarens beskryf haarself as passievol, romanties en patrioties.
Teatrale Africana is die musiekgenre waarin sy veral haar patriotiese kant en liefde vir haar taal uitleef. Sy is geseënd met ’n veelsydige sangstem, wat sterk en ver kan dra en met ’n wye omvang.
Haar tweede album, Weef (2025), getuig van haar liefde vir Afrikaans in die jaar toe dié taal sy honderdste verjaardag as amptelike taal gevier het. Sy sien haar musiek as ’n ode aan Afrikaans.
Weef is in opvolging van “Maangenade”, haar eerste enkelsnit op alle digitale platforms in Julie 2021, en kort daarna Verken, haar eerste album.

Kate Rok, hier met ’n Sotho-kombers om haar gevou, dra dikwel ’n Voortrekkerkappie. Foto verskaf
Kate is bekend as ’n donkerkop-superster, dikwels met ’n Voortrekkerkappie of gevlegte, moderne Sothostyl pruike. Sy het op Bethlehem gematrikuleer en is daarna na die Universiteit van Pretoria om drama te studeer. Ná universiteit het sy ’n paar jaar as vryskutgrimeerkunstenaar in Johannesburg gewerk en daarna as wiskunde-en-wetenskaponderwyseres op Bethlehem.
Die naam “Kate Rok” is vir haar ’n simbool van haar vroulikheid. Kate was haar ouma se naam, terwyl Rok simbolies is van die bewondering wat sy vir die sterk vroue in die Afrikanerkultuur het – en vroue in die algemeen wat trots is op hul herkoms.
Die beste raad nog was om as kunstenaar eg en uniek te wees. Sy het haarself lank opgeweeg teen ander en te lank gedink sy klink té anders of haar musiek is vreemd en nie kommersieel genoeg nie.
“Vandat vriende en mense op wie ek kan vertrou, vir my hierdie raad gegee het, het ek besef ek moet dit aangryp. Hoekom wil ek soos ander klink? Ek wil 100% myself wees.
“Daar hoef nie reëls en boksies te wees wat jou en ’n teikenmark afbaken nie. Ek is vry en dis net wonderlik om myself te wees en uit te leef.”
Sy het groot planne vir 2026. Sy hou nie meer skool nie en het haar eie konseptuele-ontwerp-onderneming, waar sy kreatiewe en binnenshuise werk vir onder meer restaurante doen. Tussendeur maak sy musiek saam met haar man, Carel, ’n klassiekekitaarspeler. Sy skep ’n teaterstuk om vir kunstefeeste in te skryf en beplan splinternuwe enkelsnitte vir vanjaar.

Kate met ’n gevlegte, moderne Sothostyl pruik. Foto verskaf
“Ek het besluit om liewer minder op tree as oral waar die gehoor nie ‘reg’ is vir Kate Rok en Teatrale Africana as genre nie. My gehoor moet luister – dis nie kuier- of agtergrondmusiek nie. Ek beplan ook huis- en Oos-Vrystaatse ‘holkrans’-konserte saam met ander kunstenaars.”
Oor haar nuwe album is sy opgewonde. Sy sing liedere wat intiem met herinneringe en emosies verweef is, waarmee sy grootgeword het in ’n musikale huisgesin.
“Ons het die klanke geweef met harmonieë wat laag vir laag oor mekaar opgeneem is in ons ateljee op Clarens – Studio State, a Free Space. Eindelik skep die koor van stemme en harmonieë die toon van die album. Dit is dubbelsinnig in die sin dat die stories en herinneringe asook die stem- en harmonietegniek die tema van “weef” vasvang.
“My stem is die weefmasjien – my grootste genadegawe van ons Vader.”
In “O, Boereplaas” dink sy aan hoe haar oupa die lied op die klavier gespeel en gesing het. Ander liedere op die album bevat herinneringe aan hoe sy en haar vier broers dikwels om ’n vuur saamsing en -lag, die vakansie in Namibië toe almal vir dae in die kar saamgesing en geharmoniseer het. Vele herinneringe in elke lied.
Van die ander liedere op Weef is “O, Heer my God”, “Seënbede”, “Toe vind ek jou”, “’n Hand vol gruis” en “Karoonag”.
Die musiekvervaardiger van Weef was Heinrich Pelser van Clarens, en van die videotonele is deur die Frans Cronjé Produksiehuis opgeneem by Sandstone Estates (Ficksburg), Moolmanshoek (Rosendal), La Motte (Bethlehem) en Ararat Safaris.
‘Ek glo met my hele hart dat sing en skryf my roeping is’
Kate Rok sing oral waar sy gaan. Haar vokale stemruimte, die treffende harmonisasie, eerlike en opregte musiek is deel van haar lewensreis met musiek waaruit sy van jongs-af inspirasie put.
“Ek glo met my hele hart dat sing en skryf my roeping is. Omdat ek glo dat ’n mens hierdie talent van skryf en sing nie kan koop nie, is dit my plig teenoor my Skepper om my musiek te deel.
“Dit is ook altyd ’n groot seën as iemand jou laat weet hoeveel jou musiek vir hulle beteken. Dit laat my besef hoe kragtig die mens as God se instrument op aarde is.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

