On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Red Ox Steakhouse: Bestuurder, vriendin op waarskuwing vrygelaat ná beweerde aanranding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:52 Thu, 15 Jan 2026

Red Ox Steakhouse: Bestuurder, vriendin op waarskuwing vrygelaat ná beweerde aanranding | News Article
Rosalia Bees glo ná die beweerde aanranding. Foto: Facebook

Twee beskuldigdes, onder wie die bestuurder van ’n restaurant op Upington, moet weer op 11 Februarie in die hof verskyn vir die beweerde aanranding van ’n vrouewerknemer in ’n restaurant naby Kanoneiland.

Die Keimoes-landdroshof het Carlos Ehlers, bestuurder van die Red Ox Steakhouse, en sy metgesel, Jayde Buckle, Donderdag (14/1) op eie verantwoordelikheid vrygelaat. Ehlers is ook voorlopig geskors ná die voorval, wat glo op ’n Nuwejaarsdans in die Red Ox Pantry Oranjerus naby Kanoneiland plaasgevind het.

NC Famous Lodges, waarvan albei eetplekke filiale is, sê waninligting oor die voorval word wyd versprei op sosiale media, soos bewerings dat die eienaar, Jean Lambrechts, persoonlik betrokke was.

Die ANC-jeugliga in die ZF Mgcawu-distrik sê hy veroordeel die beweerde voorval, waartydens twee vrouewerknemers, Debora Witbooi en Rosalia Bees, na bewering aangerand is deur ’n bestuurder by die onderneming.

Debora Witbooi nadat sy glo aangerand is. Foto: Facebook

Volgens die Jeugliga-verteenwoordiger is die beweerde aanrandings ’n growwe skending van menswaardigheid, arbeidsregte en die fundamentele regte van vroue, veral in ’n werkplek wat veronderstel is om veilig en respekvol te wees.

Die Jeugliga is ook ontsteld oor aantygings teen Lambrechts. In ’n skermgreep, wat op sosiale media geplaas is, versoek Lambrechts blykbaar die slagoffers om hul saak terug te trek en die “die nuwe jaar op ’n skoon bladsy te begin”. In een van sy boodskappe sê hy na bewering die voorval sou nie in sy teenwoordigheid plaasgevind het nie.

“Sulke gedrag weerspieël ’n gevaarlike kultuur van intimidasie, die minimalisering van geweld en inmenging met geregtigheid, wat nie geduld mag word nie,” sê Vuyani Plaatjies, Jeugliga-streekwoordvoerder.

‘As die bestuur en verantwoordelike amptenare versuim om beslissend op hul eise te reageer, sal die Jeugliga sy lede en die breër gemeenskap mobiliseer’

Die liga eis onder meer dat die betrokke bestuurder summier geskors word hangende die uitkoms van regs- en interne prosesse, sowel as ’n volledige en onafhanklike interne ondersoek na die voorval en arbeidspraktyke by Red Ox Oranje Rus.

Die organisasie doen voorts ’n beroep op die departement van arbeid en die polisie om dringend bewerings te ondersoek dat werkersregte moontlik reeds ’n aantal jare lank by die onderneming geskend word, na bewering sonder gevolge of aanspreeklikheid.

Die Jeugliga sê as die bestuur en verantwoordelike amptenare versuim om beslissend op hul eise te reageer, sal die organisasie sy lede en die breër gemeenskap mobiliseer. Dit kan uitloop op ’n optog na Red Ox Oranje Rus in Oranjezicht  om verantwoordbaarheid en die permanente sluiting van die onderneming te eis.

Groep distansieer hom

NC Famous Lodges distansieer hom van die beweerde voorval waarby Ehlers betrokke was en sê in ’n verklaring hy werk nie by Red Ox Pantry Oranjerus nie en was die aand slegs as ’n gas in die lokaal.

Volgens Bees is sy en Witbooi geteister deur Ehlers se metgesel, wat hulle na bewering gevolg, weggejaag en aanstootlike opmerkings gemaak het, insluitend om hulle “barbare” te noem.

Sy beweer Witbooi en die metgesel het mekaar te lyf gegaan toe Ehlers betrokke geraak het. Bees beweer Ehlers het haar aangerand. Sy hou voorts vol sy en Witbooi het nie gedrink nie, terwyl Ehlers en sy metgesel na bewering beskonke was.


Die voorval het Maandag (12/1) protesoptogte buite Red Ox op Upington ontketen, waarin Jeugliga-lede in die ZF Mgcawu-distrik ’n memorandum aan Lambrechts, die enigste direkteur van NC Famous Lodges, oorhandig het.

“Hoewel die saak nie werkverwant is nie, het ons Ehlers en die hoofbestuurder van Red Ox Pantry Oranjerus as voorsorgmaatreël geskors hangende tugstappe,” sê NC Famous Lodges.

Die maatskappy beklemtoon Ehlers was nie aan diens nie, die voorval het nie by sy werkplek plaasgevind nie. Hy het nie binne die bestek van sy pligte opgetree nie. “Alle misdadige gedrag, veral geweld teen vroue, word veroordeel.” Toe hy om kommentaar genader is, het Lambrechts OFM Nuus na NC Famous Lodges se mediaverklaring verwys.

Kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie op Kanoneiland ondersoek ’n saak van aanranding.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.