On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaap: hulp versoek met vermiste persone

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:22 Thu, 15 Jan 2026

Noord-Kaap: hulp versoek met vermiste persone | News Article
Ontlametse Matsime. Foto: SAPD

Die Noord-Kaapse polisie is bekommerd oor die veiligheid en welstand van inwoners wat vermis word.

Hulle vra die publiek moet na vore kom met enige inligting rakende enige vermiste mense, onder wie ’n bejaarde man, asook ’n vrou en haar twee minderjarige kinders wat in afsonderlike voorvalle in die provinsie as vermis aangemeld is. Die Batlharos-polisie het ’n soektog begin nadat Ontlametse Matsime (77) Vrydag (9/1) as vermis aangemeld is, sê sers. Merapelo Pilane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Matsime is laas gesien nadat hy ’n buurman in Gasehunelo, Kuruman, besoek het, maar het nie huis toe teruggekeer nie.” Ten tye van sy verdwyning het Matsime ’n vlootblou T-hemp, vaal langbroek en swart Swagger-tekkies aangehad.

Lerato Moeti. Foto SAPD

In ’n afsonderlike voorval versoek die Kagisho-polisie hulp om Lerato Moeti (33) op te spoor wat reeds langer as ’n maand saam met haar kinders vermis is. Moeti het na bewering haar woning in Welcome Moetistraat in Kutlwanong, ook bekend as Club 2000, op 4 Desember verlaat en haar lewensmaat meegedeel dat sy saam met haar kinders, ’n meisie (5) en ’n seun (3), dorp toe gaan,” sê Pilane.

“Hulle is later na bewering deur ’n familielid gesien terwyl hulle ’n taxi na Bloemfontein bestyg het.” Moeti het ten tyde van haar verdwyning ’n bruin sagte bomwerperbaadjie, swart syagtige sweetpakbroek met wit strepe aan die kante en bruin hoë-top tekkies aangehad het.

“Sy het ook groot ronde oorbelle, ’n donkerbruin halssnoer en veelkleurige krale-armbande aan beide haar arms en bene gedra. Sy het ’n litteken aan haar linkeroor, wat met uitkenning kan help,” sê Pilane.

Geen wagtydperk

Die polisie vra enigiemand wat inligting het wat kan help om die vermiste mense op te spoor, moet onverwyld kontak maak. Enigiemand met inligting oor Ontlametse Matsime kan speur.konst. Mogorosi Setlhauno by 060 496 9665 of 053 712 9960 nader.

Inligting oor Lerato Moeti en haar twee kinders kan deurgegee word aan speur.konst. Lesego Maselesele by 062 407 4090 of 053 871 1174, of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

“Ons wil ook die publiek daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is om ’n persoon as vermis aan te meld nie,” sê Pilane. “Tyd is krities in hierdie gevalle, en vroeë aanmelding kan ’n beduidende verskil maak.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.